IntegriteitVoorbeeld

Integriteit

DAG 2 VAN 10

Wat sê die Bybel oor integriteit?

Geen ander geskrif is meer gesaghebbend oor die onderwerp van integriteit as die Bybel nie. Alhoewel die Bybel konsekwent en bepalend is oor alles wat met integriteit geassosieer word, is dit interessant dat Afrikaanse Bybelvertalings nie eintlik die woord “integriteit” gebruik nie. In verskillende Engelse vertalings word die woord “integrity” wél gebruik, veral in die Ou Testament.

Die twee Hebreeuse woorde in die Ou Testament wat meestal met “integrity” vertaal word, is tōm en tummāh. Die twee woorde word in Afrikaanse Bybelvertalings onder andere vertaal met heelheid, volkomenheid, eenvoud, opregtheid, opreg lewe, eerlik lewe, in trou handel en regskapenheid. In heelwat gevalle waar hierdie woorde in die Afrikaanse vertalings van die Bybel voorkom, kon dit netsowel met integriteit vertaal word. 

Daar is soveel voorbeelde van mense en situasies in die Bybel waar integriteit gedemonstreer word. Die volkome voorbeeld van integriteit kan wel in niemand anders as Jesus sélf gevind word nie. Hy is die volmaakte openbaring van waarheid en daar is geen leuenagtigheid in Hom nie. Hebreërs 6:18 (Bybel in Afrikaans 1933/1953) sê dat “dit onmoontlik is dat God sou lieg” en Titus 1:2 sê: “Hy kan nie lieg nie.” Hebreërs 13:8 verseker ons dat Jesus die volmaakte voorbeeld van konsekwentheid is: “Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!”

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Integriteit

Niks neem langer om te bou as ’n goddelike reputasie nie – en niks word vinniger vernietig deur ’n enkele misstap nie. Dit is hoekom jou integriteit bo enigiets anders beskerm moet word. Isak Burger praat eerlik en reguit oor integriteit en wat dit werklik vir gelowiges beteken, in hierdie 10 oordenkings saamgestel uit sy boek INTEGRITEIT.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://cumbooks.co.za