Gemaak Vir …Voorbeeld
DAG 5
Daar is ʼn dimensie van hierdie verhouding wat bo woorde verhewe is. Daar is ʼn wind wat waai en Hy is in die wind. Jy kan die wind nie sien nie. Ons kan nie ons God sien nie. Hy is ʼn onsigbare God, maar Hy is wel daar. Ek kan Hom beleef, intuïtief aanvoel. Miskien die effek soos die geritsel van die blare waarneem, iets van die effek van sy teenwoordigheid sien. Die profeet Elia het so ʼn ervaring gehad. Hy is op die berg en daar is baie dinge wat gebeur, dinge wat al gebeur het, maniere waarop hy God in die verlede beleef het, maar nou is daar net die geruis van ʼn aandwindjie, sê die 1953-vertaling. Die King James weergawe praat van 'n “still small voice.” Dis net stilte. Daar is ʼn plek sonder woorde. Ek is net by Hom. Ek is net saam met Hom en ek voel Hom aan. My intuïsie sê en neem waar: “Ek is by Hom.”
Ek onthou hoe my oupa en ouma middae op die stoep gesit het toe ek jonk was. Tee-tyd het hulle bymekaar gesit en dikwels net gesug of na mekaar gekyk en geglimlag en daar was nie woorde nie. Dit was so lekker vir my en my boetie om daar rondom hulle te speel, want daar was iets wonderliks daar — daardie band, daardie net in mekaar se teenwoordigheid "wees". Dit vorm ʼn diep konneksie.
ʼn Vriend van my wat agnosties was, het lank terug vir my gesê: “Ek weet nie eers Hy bestaan nie.” Ek nooi hom toe uit: “Nou hoekom vra jy Hom dan nie?” En hy sê: “Hoe kan ek met iemand praat wat ek nie weet of Hy bestaan nie? Sê nou net ek praat met Hom asof Hy dalk kan bestaan en vra vir Hom, praat met my, werk met my, kom na my toe.” Hy het dit gedoen en as gevolg van ʼn klomp goed wat met hom gebeur het, het hy tot ʼn diep oortuiging gekom dat daar ʼn God is en dat Hy goed is. En hy het ʼn verhouding met die Here begin bou.
Jy sal dit nooit wil doen as jy nie weet jy kan nie. Jy is gemaak vir 'n verhouding. Dit help om ander mense te sien wat dit het en hoe hulle dit kry. Daardie diep oortuiging in jou — hoe dit ook vir my in die verlede was — is moontlik. Dis geloof wat in jou tot stand moet kom. Dan moet jy ʼn manier kry. Dalk is een van die beste en eenvoudigste maniere om by mense uit te kom wat dit wil doen, wat dit probeer doen en saam met hulle op ʼn reis gaan sodat jy kan leer wat dit is om 'n verhouding met God te hê.
Om ʼn plek te kry, ʼn tyd te kry, oop te maak, te luister, aandag te skenk, die ervaring in jou hart te hê wat dikwels oorspoel in jou siel en in jou emosies, wat hoendervleis kan gee, dat jy met Hom is, sodat jy hierdie verhouding kan bou, jou anker vasmaak vir die storms, die strome, die tyd waarin ons leef.
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe gaan om verhoudinge. Ons is geskape om in verhouding met God, ander en die wêreld om ons te leef. Ons wil daarom nader aan God beweeg en hegter verhoudinge bou.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/