Huweliksbeloftes Voorbeeld
Vir beter of slegter
Nooit kon ons dink hoe vêr die slegter strek nie. Ons almal wat getroud is weet verseker daar is die bo-op-die-berg-dae en onder-in-die-vallei-dae. Die meeste van die kere is ons self verantwoordelik vir die plek waar ons onsself bevind. Ja daar is ook tye waar eksterne faktore wel ‘n rol speel. Vir baie lê die “beter” vêr in die verlede! ‘n Seisoen wat ons dalk na die wittebrood beleef het. Soos alles in die lewe, hou niks, of dit goed of sleg is, vir altyd nie. Die huwelik is immers harde werk word gesê.
Wat is jou definisie van beter dae? Is dit iets wat net vir jou saak maak. Of werk albei van julle daaraan. Die slegter dae het dalk begin toe hy sy werk verloor het. Of toe sy gedurig haar ouers se raad vir julle huwelik gevra het. Dalk probeer hy die sorge weg drink en dit terwyl dit alreeds finansieel swaar met julle gaan. Dan word die belofte nou tot op sy uiterste getoets. Jy kan dalk aan nog ‘n duisend redes dink waarom jy wil handdoek ingooi!
Ek wil jou vandag bemoedig. Die lewe het nie witbroodjies nie. Dis juis die slegter dae wat die potensiaal het om ons te vorm. Druk deur. Veg nog net een rondte. Stap net nog ‘n myl! Maar kry hulp. Dit is nie ‘n skande om hulp te vra nie. Dis wel om te bly lê as jy geval het.
Daar is geen waarborg dat paartjies net goeie dae gaan beleef nie. Die gesindheid van albei speel ‘n groot rol. Kies vandag om die “beter” op te soek en hard daarvoor te werk. En as dit sleg gaan, kies om aan te hou totdat dit weer beter gaan.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer jy gedurigdeur herhinner word aan die beloftes wat voor God en sy mense gemaak is, word die erns van jou verbintenis herhaaldelik opgeroep. Dit gebeur so maklik dat die beloftes wat voor die predikant op die huweliksdag gemaak word agterweë bly by die onthaal. So of jy nou reeds voor die kansel gestaan het of nog op pad is, is hierdie plan vir jou.
More
Ons wil graag Die Volle Evangelie Kerk van God in S.A bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.fgcsa.co.za/