Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met GodVoorbeeld

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

DAG 11 VAN 14

“Kies reg”

Ons almal kom elke dag voor keuses te staan. Jy kies soggens wat jy gaan aantrek, wat jy vir ontbyt gaan eet en wat jy die spesifieke dag gaan doen. Jy kies watter kruideniersware jy gaan koop en by watter koffiewinkel jy saam met jou vriendinne gaan koffie drink.

Hierdie tipe keuses is nie baie belangrik nie, maar ons kom ook voor belangrike keuses te staan tydens die verloop van ons lewe, soos watter huweliksmaat of loopbaan ons gaan kies. Wanneer ’n mens op hierdie terreine die regte keuse maak, is jy gelukkig terwyl ’n verkeerde keuse jou baie moeite en verdriet op die hals kan haal.

Een van my vriendinne wat al drie maal met kanker gediagnoseer is en elke keer weer gesond uit die stryd getree het, se leuse is: “Geluk is ’n keuse.” Sy glo dat almal van ons kan kiés om gelukkig te wees en die heel beste uit die lewe te haal, óf om elke dag ongelukkig te wees omdat dinge nie altyd verloop soos ons dit graag wil hê nie. Lana loop altyd met ’n stralende glimlag rond omdat sy gekies het om gelukkig te wees.

Indien jy die Here ken en liefhet, sal Hy jou elke keer help om die regte keuse te maak – vra Hom gerus om jou reg te laat kies wanneer jy belangrike besluite moet neem, en kies dan elke dag om gelukkig te wees.

GEBED: Hemelse Vader, sal U my asseblief elke dag lei om die regte keuses te maak wanneer ek belangrike besluite moet neem. Ek wil van nou af ook kiés om gelukkig te wees, ongeag watter dinge in my lewe gebeur. Help my asseblief om dit reg te kry. Amen.
Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

Om werklik gelukkig te wees en met blydskap te leef, is waarna elkeen van ons streef. Wanneer ons God se leiding vir ons lewe aanvaar, sy gebooie gehoorsaam en die regte keuses binne sy plan vir ons maak, kan ons geluk en geloof groei. Hierdie 14-dag-plan is ’n samestelling van dagstukkies deur gewilde Suid-Afrikaanse skrywer Nina Smit. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor geluk en ’n slotgebed.

More

Ons wil graag Nina Smit / Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumbooks.co.za/