Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met GodVoorbeeld

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

DAG 9 VAN 14

“Doen die dinge waarin jy uitblink”

Dit is vir ons belangrik om bekwaam te voel. Neem dus verantwoordelikheid vir dié terreine waarin jy uitblink – en vra vir hulp as jy vasbrand, sê David Niven in THE 100 SIMPLE SECRETS OF HAPPY PEOPLE.

Almal wat al kursusse geneem het in dié vakke waarvoor hulle ’n besondere aanleg het, sal weet dat ’n mens gewoonlik goed presteer in die rigtings waarin jou talente lê. As jy egter durf waag om iets te neem waarvan jy nié hou nie of waarvoor jy geen aanleg het nie, gebeur presies die teenoorgestelde.

Ek self het jare gesukkel om soos ’n goeie predikantsvrou vergaderings en basaars te reël voordat ek ’n Gebruik-jou-gawes-kursus geneem en besef het dat dit beslis nié rigtings is waarin ek uitblink nie. Vandat ek dié dinge begin doen het waarvoor ek aangelê is, het dit baie beter gegaan. Om te sukkel met goed wat jy regtig met die beste wil ter wêreld nie kan regkry nie, maak enige optimis moedeloos en werk beslis nié geluk in die hand nie.

Daar is min dinge wat so lekker is as om iets te doen wat jy regtig goed kan doen. My ma is ’n bobaas-blommerangskikster en ’n mens kan haar vreugde sién wanneer sy ’n rangskikking voltooi het wat almal laat opmerk hoe pragtig dit is. Doen van nou af dié dinge waarin jy uitblink, en jou blydskap sal toeneem.

GEBED: Hemelse Vader, dankie vir gawes en talente wat ek uit u hand ontvang het. Help my om my bydrae te lewer op die gebiede waarop ek uitblink sodat ek gelukkig kan wees. Amen.
Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

Om werklik gelukkig te wees en met blydskap te leef, is waarna elkeen van ons streef. Wanneer ons God se leiding vir ons lewe aanvaar, sy gebooie gehoorsaam en die regte keuses binne sy plan vir ons maak, kan ons geluk en geloof groei. Hierdie 14-dag-plan is ’n samestelling van dagstukkies deur gewilde Suid-Afrikaanse skrywer Nina Smit. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor geluk en ’n slotgebed.

More

Ons wil graag Nina Smit / Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumbooks.co.za/