Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met GodVoorbeeld

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

DAG 13 VAN 14

“Fokus op die dinge wat jou hoop gee”

Ongelukkige mense konsentreer op hulle vrese, terwyl gelukkige mense fokus op potensiële verbeterings wat die toekoms inhou, aldus David Niven in THE 100 SIMPLE SECRETS OF HAPPY PEOPLE.

Daar gebeur daagliks dinge wat ons ons hoop laat verloor – en dit mag nie. Eerder as om op dinge soos misdaad en rampe te konsentreer, moet jy liewer fokus op die dinge wat jou hoop gee. Daar is soveel mooi dinge in die lewe. Let fyn op die skoonheid om jou en wéét dat God hierdie dinge gemaak het sodat jy dit kan geniet.

Luister na jou gunsteling musiek, gaan stap in die natuur, doen lekker dinge saam met die mense wat jy liefhet, en wéét dat alhoewel daar negatiewe dinge in die wêreld gebeur en jy noodwendig deur die loop van jou lewe met seerkry en swaarkry gekonfronteer gaan word, jy nog steeds aan die hoop kan vashou. “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees,” is Paulus se wens aan die gemeente van Rome (Rom. 15:13, Bybel die Afrikaans 1983/1992).

Dit is vandag ook my wens vir jóú – dat jy dit sal kan regkry om weg te kyk van alles wat jou beswaard maak en op God, die Bron van jóú hoop, sal fokus. Dan sal jy mos nie anders kán as om gelukkig te wees nie.

GEBED: Hemelse Vader, maak dit asseblief vir my moontlik om te fokus op die dinge wat my hoop gee, en weg te kyk van dié dinge wat my bang maak. Amen.
Dag 12Dag 14

Aangaande hierdie leesplan

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

Om werklik gelukkig te wees en met blydskap te leef, is waarna elkeen van ons streef. Wanneer ons God se leiding vir ons lewe aanvaar, sy gebooie gehoorsaam en die regte keuses binne sy plan vir ons maak, kan ons geluk en geloof groei. Hierdie 14-dag-plan is ’n samestelling van dagstukkies deur gewilde Suid-Afrikaanse skrywer Nina Smit. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor geluk en ’n slotgebed.

More

Ons wil graag Nina Smit / Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumbooks.co.za/