Nie Gemaak Om Alleen Te Wees Nie - Gemaak vir Gemeenskap in 'n Eensame WêreldVoorbeeld
Week 3 Gemaak vir Gemeenskap met die Plaaslike Kerk
In Jesus se Naam
Lees: Matteus 18:20
SOAP: Matteus 18:20
“want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”
Oordenking
Die dissipels het na Jesus toe gekom met baie vrae. Terwyl Hy in Galilea was, het Jesus vir die tweede keer aan hulle geopenbaar dat Hy gaan sterf, en hulle was bekommerd. Hulle het alles prysgegee om Jesus te volg, en nou gaan die gemeenskap vir wie hulle lief was, drasties verander. Die dissipels wou 'n plan hê. Hulle wou weet wie Jesus gedink het die belangrikste onder hulle is. In plaas daarvan het Jesus hulle geleer van nederigheid, die soeke na die verlorenes en die herstel van verhoudings.
Bybelse gemeenskap is 'n groep eendersdenkende Christene wat toegewyd is om uit God se Woord te leer en dit uit te leef. Dit is meer as 'n sosiale klub of groep vriende met soortgelyke belangstellings wat bymekaar kom. Om 'n Bybelse gemeenskap in jou lewe te kweek, beteken om verder te gaan as oppervlakkige gesprekke na doelbewuste tyd wat saam spandeer word om mekaar aan te moedig en op te bou in God se Woord. Die motief agter die gemeenskap is 'n liefde vir God, 'n liefde vir mekaar, en 'n begeerte om mekaar te help om ons lewens in gehoorsaamheid en eer aan God te leef.
Dit is wat Jesus die dissipels geleer het en wat ons vandag ook uit ons Skrifgedeelte kan leer. Ons verhouding met God is persoonlik, en dit is bedoel om in gemeenskap uitgeleef te word waar ons mekaar kan aanmoedig, mekaar aanspreeklik kan hou en mekaar kan ondersteun – en ons doen dit nie alleen nie! Jesus belowe dat, wanneer selfs net 'n paar gelowiges in sy Naam bymekaar is, Hy daar is.
Wanneer ons saam met ons Bybelse gemeenskap vergader, gemotiveer deur 'n begeerte om God heelhartig lief te hê en ander te help om dieselfde te doen, is Jesus daar by ons. Dit is wat die plaaslike kerk is: 'n byeenkoms van eendersdenkende mense wat lief is vir Jesus en 'n begeerte het om te groei, te leer, mekaar aan te moedig en te ondersteun, terwyl dit ook verantwoordelikheid en konneksie verskaf. Jy is gemaak vir hierdie tipe gemeenskap met die plaaslike kerk! Wat 'n seën!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Nog nooit tevore in die geskiedenis van die wêreld was mense meer met mekaar “verbind” as ons huidige generasie nie, en tog voel so baie van ons meer eensaam as ooit. God het ons ontwerp om in gemeenskap met Hom en met mekaar te leef. In hierdie vier-weke lange studie gaan ons leer hoe ‘n Bybelse gemeenskap lyk en hoe om dit in ons lewens te kweek.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans