Lewe In Die WaarheidVoorbeeld

Lewe In Die Waarheid

DAG 3 VAN 5

Dag 3: Om die waarheid lief te hê

"… terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op ... Julle moet op ’n nuwe, geestelike manier leer dink. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is. Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat. Ons is tog lede van dieselfde liggaam."

Efesiërs 4:15-16, 24-25 NLV

’n Romeinse fabel vertel dat terwyl Waarheid iewers geswem het, het Leuen Waarheid se klere kom steel. Waarheid het gekies om naak rond te loop, eerder as om die klere te dra wat Leuen in ruil daar agtergelaat het. Daarom praat ons van die “naakte waarheid”.

Ons is soms te sag op die waarheid. Ons skroom nie om leuens te vertel om ons uit verknorsings te kry nie. Wanneer ons vergeet om iets vir iemand te doen, dan sê ons maklik iets soos: “Ek het jou in die hande probeer kry, maar jy was nooit tuis nie.” As ons onverwags in iemand vasloop wat ons nie eintlik wil sien nie, raak ons woorde kwyt soos: “Ek dink baie aan jou.” Is dit die waarheid? Of dalk ‘n noodleuen? Wel, feit is, daar is nie iets soos noodleuens nie, dis alles net leuens. Nooit is enige nood groot genoeg om met die waarheid te ploeg nie.

Annanias en Safira se leuen was om die helfte van die waarheid te vertel. Hulle was 50% reg. Is dit genoeg? Nee, nie vir God nie. Hoekom het hulle gejok? Om hulleself te bevoordeel, soos wat leuenaars doen. Ons jok om onsself uit ‘n verknorsing te kry, of om onsself beter te laat lyk in die oë van ander!

Mense, wat die waarheid liefhet, is mense so reg na die Gees van God se hart. Dit is mense wat nie nodig het om gedurig te onthou waar hulle wat vir wie gesê het nie, omdat hulle weet hulle praat altyd eerlik en openhartig die waarheid. Hulle gaan slaap elke aand rustig sonder ‘n gewete wat pla oor waarhede wat hulle daardie dag nek omgedraai het om hulleself te pas. Om die waarheid lief te hê, is ‘n kosbare deel van ons geloof. Om dit te praat, te dink en te leef is die sigbare handtekening op ‘n lewe van integriteit voor God en mense.

Waarheid is soos die gordel om ons middel, skryf Paulus in Efesiërs 6. Dit hou ons geestelike klere in plek. Dit ontstaan in die Gees se hart en vloei na ander toe deur jou hart wat Hy aangeraak het.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Lewe In Die Waarheid

Waarheid in liefde bou op, Waarheid in liefde genees, Om die waarheid lief te hê — Wanneer ons die moed vind om ons geheime te bely, is daar niks wat ons terughou in ons lewe en in ons liefde nie.

More

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/