Die Beloofde MessiasVoorbeeld
Week 3 - Dit Is Volbring
Die Goeie Herder
Lees: Psalm 23; Lukas 15:3–7; Johannes 10:11
SOAP: Johannes 10:11
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”
Oordenking
Dawid het van God as sy Goeie Herder gepraat, die een wat hom na stille waters en groen weivelde sou lei en hom veilig hou. Alhoewel Psalm 23 nie as ‘n tipies Messiaanse Psalm beskou word nie, was die Jode wat in die tyd van Jesus geleef het baie bekend met hierdie psalm en die betekenis daarvan. Hulle was ook bekend met die werk van herderskap, aangesien dit ‘n algemene beroep in Israel was, en steeds is.
‘n Herder pas skape op. Die herder beskerm die skape teen die dood en hou hulle weg van roofdiere. Die herder lei die skape na oorvloedige lewe, lei hulle na goeie weivelde waar hul gevoed kan word. Hy roep die skape en die skape luister, want hulle ken die herder. Op enige tydstip is die herder bereid om sy lewe neer te lê vir die skape, want om homself prys te gee, kan die skape red.
Tydens sy bediening het Jesus Homself die Goeie Herder genoem. Hy beskerm sy skape teen die dood. Hy lei sy skape na oorvloedige lewe, gee vir hul wat hul nodig het, en onderhou hul lewe. Jesus het Homself prysgegee vir sy skape, in hul plek gesterf sodat hulle oorvloedige lewe en ‘n ewige lewe saam met God kan hê.
Jesus het gekom om dié wat verlore is te soek en te red. Soos ‘n goeie herder agter sy verlore skape aan gaan, het Jesus gekom om die verlore skape, diegene wat Hom nie volg nie, te soek. Sy doel is nie om mag of roem te verwerf nie, maar om diegene te vind wat verlore is en ‘n Verlosser nodig het. Die godsdienstige leiers het Hom verwerp, maar diegene wat nie normaalweg as regverdig geag sou word nie, soos bedelaars en tollenaars, was dié wat ware geloof getoon en verlossing ontvang het.
Jesus het Homself die Goeie Herder genoem en vir ons gewys hoe Hy die Een is wat vir ons omgee soos Dawid beskryf het. Hy is in staat om te beskerm, te voorsien en vir sy skape te sorg. Hy is die Een wat agter sy skape aan gaan, maak nie saak hoe ver hulle geval of van Hom af weggedwaal het nie.
Hy is die Goeie Herder wat omgee en sy skape oppas. Hy is die vervulling van God se belofte om vir sy volk te voorsien en hulle te beskerm. Soos Dawid op sy Goeie Herder staatgemaak het, kan ons ook op Jesus staatmaak vir alles wat ons nodig het.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer God ‘n belofte maak, het Hy reeds ‘n plan om dit gestand te doen. Sy grootste belofte, om vir ons ‘n Verlosser te stuur om ons van sonde te red, word bewys deur die lewe, dood en opstanding van Jesus. In hierdie studie gaan ons dieper delf in die spesifieke messiaanse beloftes wat God aan sy volk gemaak het en hoe Jesus elkeen van hierdie beloftes vervul het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.loveGodgreatly.com