'n Goddelike LeweVoorbeeld

'n Goddelike Lewe

DAG 6 VAN 10

MAAK TYD OM TE BID

“Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid” Markus 1:35.

Ons lees hoe naby Christus aan sy Vader geleef het. As ‘n mens naby iemand lewe, is dit so belangrik dat jy vrylik met daardie persoon kan kommunikeer. Ons lees hoe Jesus baie tyd in gesprek met sy Vader deurgebring het.

Wanneer ons in ‘n goeie verhouding met iemand staan, deel en praat ons ook met mekaar oor baie dinge. Mens vertel hartseer dinge, praat lekkerkry dinge, vertel van jou bekommernisse, lag saam en luister ook as die ander persoon met jou gesels.

Baie mense het na Jesus toe gekom om gesond gemaak te word – selfs op die sabbat. Omdat daar niks regtig mag gebeur het op die sabbat nie, het hulle gewag tot dit donker is en die sabbat verby is voor hulle na Jesus gekom het. So dink ek Jesus moes maar die volgende dag redelik moeg gevoel het. Ongeag dit, MAAK hy tyd vir sy Vader. In plaas daarvan om bietjie laat te slaap en in te lê sodat sy batterye kan herlaai, staan Hy op terwyl dit nog nag is en gaan na ‘n eensame plek om daar te bid.

Soms kry mens die gevoel dat jou verhouding met die Here eintlik nie meer groei nie. Is dit nie dalk omdat ons nie meer tyd maak om te bid nie? Gebed is die belangrikste skakel tussen God en ons.

Neem die les van Jesus vandag. Kry jou gereelde tye wanneer jy alleen en ongehinderd met God tyd deurbring. Daar waar dit stil en rustig is. Doen moeite al sou dit beteken jy moet bietjie vroeër soggens opstaan!

Gebed

“Hemelse Vader, Ek is jammer as ek dalk nie genoeg deur ‘n dag bid nie. Help my om getrouheid te kweek om elke dag genoeg tyd te maak en dit dan met U deur te bring. Here, ek nodig om alleen saam met U te wees. In die Naam van Jesus. Amen!”

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

'n Goddelike Lewe

'n Goddelike lewe voel soms onbereikbaar ver, maar deur die Woord daagliks te bestudeer word dit makliker. Hierdie 10-Dag leesplan is 'n hulpmiddel vir jou pad. 'n Pad wat nie net eenmaal geloop word nie maar daagliks gewandel moet word om jouself te bewapen vir die aanslae van die lewe, die kinkels en draaie en die onverwagte mooi oomblikke van genade.

More

Ons wil graag Worthy Ministry Brakpan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://worthyministry.wixsite.com/brakpan