Habakuk se hoopVoorbeeld

Habakuk se hoop

DAG 2 VAN 7

God is nêrens nie

“Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt” Habakuk 2:1.

As ons vandag vir Hoofstuk 1 ‘n opskrif moet gee, sal dit so klink: God is nêrens!

Die gebed in Habakuk 1:2-4 klink maar ‘n bietjie morbied: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.”

Dis amper asof Habakuk hierdie gebed vir ons hier in Suid-Afrika geskryf het, nè? Ellende net waar jy kyk. Dalk vra jy vandag: Here, hoekom sit ek met hierdie kanker of ongeneeslike siekte in my liggaam? Here, hoekom is my kind dood? Hoekom sukkel ek so met my finansies, of verhoudinge?

Ons dink God se antwoord moet maklik en gou wees. Daarom moet ons mooi luister wat die Here vir Habakuk sê in vers 5. Dis so amper asof die Here vir hom wil sê: Ek is nie ‘n Google soek-enjin waar jy net ‘n knoppie druk, en ek bied jou kits godsdienstige oplossings nie. Ek is nie die God wat jy kan forseer om iets te doen, net omdat JY nou besluit het om te bid nie. Gebed is nie voorskrifte aan die Here of manipulasie nie. Jy weet: “Here, kyk net hoe sleg gaan dit met ons; ... ons STAAN nou op hierdie Bybelteks en nou MOET U vir ons dit of dat doen nie.

Dis dalk vandag die tyd waar ek en jy op ons uitkyktoring moet staan en die besluit neem om eers met God ‘n verhouding te hê, voordat ons Hom peper met versoeke. Dis dalk tyd dat ons moet leer om vir God te wag, eerder as om op ons eie insigte staat te maak.

GEBED:

My Vader, ek is hier in my geestelike uitkyktoring in my binnekamer. Verander tog my moedeloosheid in afwagting. Ja, praat asseblief met my Here. Amen.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Habakuk se hoop

Toe Habakuk nie meer hoop gehad het nie, het hy ‘n besluit geneem om vir hom ‘n vestingmuur op te rig en om op God te wag. Moenie God inperk met jou eie gedagtes en oplossings nie. Bring jou nood voor God, maar wag vir sy perfekte tydsberekinging in jou lewe. Hy belowe om jou voete soos die van ‘n ribbok te maak wanneer jy teen hoë plekke moet loop.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/