Habakuk se hoopVoorbeeld

Habakuk se hoop

DAG 7 VAN 7

EK SING ‘N OORWINNINGSLIED

"Vir die koorleier. Met snarespel" Habakuk 3:19.

Habakuk sluit hoofstuk 3 af met ‘n sin wat ons maklik “weggooi.” Tog moet ons onthou dat Habakuk in sy menswees gegroei het vanaf die een wat gevoel het God is nêrens, tot by sy ervaring dat – wanneer hy op God wag – God by hom is; tot by hierdie ongelooflike ontdekking dat God in der waarheid oral teenwoordig is!

Dis asof Habakuk eintlik vir ons sê: "Ek het nou musiek geskryf wat julle moet gaan sing. As julle so kerm en kla, is julle in der waarheid die koorleiers van elke treurliedjie in Suid-Afrika en in jul eie lewens: Dis klaar met ons. Wat gaan van ons word? Hier kom moeilikheid.” Dis ‘n bekende liedjie. Ons skryf eintlik elke dag nog ‘n versie van ellende by.

God soek sy kinders wat diep kyk en fyn luister, want dis nie waar dat God nêrens is nie. God is oral. Daarom nooi Habakuk die mense uit om hierdie nuwe lied te gaan sing wat hy geskryf het.

Mag dit ook vandag jou lied wees om te sing! Mag ek en jy saam met Habakuk besef dat God nie so klein is dat Hy in jou hempsak, of handsak pas waar jy Hom kan verloor nie. Die God wat die hemel en aarde gemaak het en voor wie die engele in heilige eerbied neerbuig, kan ons nie verloor nie. Hy is die hele heelal vol. Hy sit op sy troon.

Ons kan God oral om ons raaksien, as ons saam met Habakuk in Hoofstuk 2:20 luister en ‘n slag stilbly: “Die Here is in sy heilige tempel. Almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees.” Sien Hom raak in die prag van die sonsondergang, in die voëltjie wat sy nessie bou en ook in die lag van jou kind.

Wag op Hom totdat jy Hom in jou hele lyf kan voel. Jy sal dan in plaas van hooplose mense, die krag van gebedsverhoring sien; jy sal sy genade oral ervaar en om jou raaksien. Hy sal jou sy vrede gee en dan sal jy op hoë plekke kan loop.

GEBED:

My Here en my God! Hoe groot is U! Ek staan in verwondering oor u almag en genade. Dankie dat ek vandag ‘n nuwe lied tot u eer kan sing. Amen.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Habakuk se hoop

Toe Habakuk nie meer hoop gehad het nie, het hy ‘n besluit geneem om vir hom ‘n vestingmuur op te rig en om op God te wag. Moenie God inperk met jou eie gedagtes en oplossings nie. Bring jou nood voor God, maar wag vir sy perfekte tydsberekinging in jou lewe. Hy belowe om jou voete soos die van ‘n ribbok te maak wanneer jy teen hoë plekke moet loop.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/