Habakuk se hoopVoorbeeld

Habakuk se hoop

DAG 3 VAN 7

Wag op God

“U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God ...” Habakuk 1:12.

Net soos Habakuk het ek en jy ook dikwels ‘n stortvloed woorde van klagtes en versoeke wat ons voor God bring. Baie keer is God se antwoord nie wat ons graag wil hoor nie. As ons by God kla, wil ons mos hê Hy moet dadelik antwoord en vir ons gee wat ons vra.

Jakobus 4:3 sê: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” Ons gebede raak maklik selfsugtig. Ja, ons bid graag dat die Here die land moet red; maar eintlik vra ons dit sodat ons en ons kinders tog net veilig sal wees. Dis asof God, net soos vir Habakuk, ook vir ons wil sê: Hou op om jou vroom selfsugtige gebede te bid.

Onthou Habakuk is die biddende profeet. Hy profeteer nie. Hy stoei met God in gebed. Here, waar is U? Hoe kan U al die dinge toelaat wat met ons gebeur!

As ons kan aanhou lees tot by Hoofstuk 2, sal ons die diep geheim ontdek oor hoe om geestelik te groei. Habakuk doen die beste ding wat enige gelowige kan doen. Hy het by daardie plek uitgekom om te besef:of dit met jou goed gaan en of dit met jou sleg gaan, of jy siek, of gesond is, Wag op die Here! Moenie gedurig na kits-oplossings soek nie! Ons God is tog van altyd af daar. Hy is ons heilige God. Hy weet wat ons nodig het.

Dawid skryf in Psalm 131:2 aan die einde van sy lewe: “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n klein kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind" Ja, hy bekommer hom nie meer oor dinge wat bo sy vermoë is nie. Hy het geleer om op die Here te wag.

“Jy moet net geduldig bly wag; as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.” NIV: “Although it lingers, wait for it, it will certainly come.”(Habakuk 2:3)

Moenie so ongeduldig wees nie. Vertrou God. Hy ken jou. Hy weet wat jy nodig het, nog voordat jy dit vra.

GEBED: My God, ek wil op U bly wag. Amen

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Habakuk se hoop

Toe Habakuk nie meer hoop gehad het nie, het hy ‘n besluit geneem om vir hom ‘n vestingmuur op te rig en om op God te wag. Moenie God inperk met jou eie gedagtes en oplossings nie. Bring jou nood voor God, maar wag vir sy perfekte tydsberekinging in jou lewe. Hy belowe om jou voete soos die van ‘n ribbok te maak wanneer jy teen hoë plekke moet loop.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/