Waarom antwoord God nie my gebed nie?Voorbeeld

Waarom antwoord God nie my gebed nie?

DAG 7 VAN 7

Jou perspektief speel ‘n groot rol

Kyk na Elia – 1 Konings 17-19 – ‘n man van geloof en gebed. Watter wonders het hy nie met sy eie oë gesien nie! Met watter magtige dade het God sy gebede verhoor! Hy het dit met sy eie oë gesien. God het vir hom kraaie gestuur om hom te voed. Hy het gesien hoe 'n kind in antwoord op gebed uit die dood opstaan.

Elia het gesien hoe God die hemel vir drie en 'n half jaar toegesluit het in antwoord op sy gebede – geen reën het geval nie. Hy het gebid en vuur het uit die hemel op die Karmelberg afgekom. Daarna die reën.

Hy het gedink: "Uiteindelik sal herlewing nou kom – nou sal die deurbraak kom – die volk sal terugkeer na God toe!"

Dit het egter nie gebeur nie. Hy het gehoor van koningin Isebel wat ‘n eed gesweer het dat sy hom gaan doodmaak. Toe slaan hy op die vlug. Waar is sy God nou? Waar is die God wat hom net 'n paar uur gelede op die Karmelberg geantwoord het – om nie eens te praat van al die ander kere nie!

Ons kan dit herformuleer: Waarom verhoor God nie my gebed nie?

'n Man het sy besigheid verloor, 'n vrou word beskuldig van iets wat sy nie gedoen het nie, 'n ander verloor sy vrou omdat sy 'n ander man gevind het. Party kinders het 'n pa verloor, 'n ander weer 'n kind. Sommige het nie geld vir die basiese behoeftes nie.

'n Deel van die antwoord sou wees: God het jou gebede verhoor – baie van hulle. Sommige het Hy nie (en soms nog nie). Alles om sy eie Goddelike redes.

Kyk terug. Dink aan die baie gebede wat in jou lewe verhoor is. Onthou die "kraaie" wat vir jou kos gebring het. Kyk na die "kind wat uit die dood opgewek is".

Die kanse is goed dat jy nie nou wil terugkyk nie. Hoekom? Omdat jy so bewus is van hierdie een spesifieke onbeantwoorde gebed waarmee jy tans worstel.

Kom tot stilstand: besin eers. So dikwels moet ons eers terugkyk voordat ons vorentoe kan gaan! Jy het wel baie antwoorde gesien. Kyk terug en tel hulle! Jy sal nie almal kan tel nie. In die verlede het jy Hom vertrou. Hy het geantwoord. Hy antwoord nog steeds. Vertrou Hom ook nou omdat Hy die beste weet.

Laat jou vreugde toe om terug in jou hart te kom. Maak die deur wyd oop. Kyk – jy sal Hom in die deuropening sien staan. Hy is aan die werk – namens jou. Jy is te kosbaar vir Hom en Hy kan jou nie die steek laat nie – want dit sal nie in ooreenstemming met sy karakter wees nie.

Jy sal weer duidelike antwoorde op jou gebede sien – baie van hulle.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Waarom antwoord God nie my gebed nie?

Baie mense wonder waarom hulle nie antwoorde kry wanneer hulle bid nie. Hierdie leesplan gee 'n aantal redes wat jou kan help.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com/