’n Oproep tot Dienende LeierskapVoorbeeld

’n Oproep tot Dienende Leierskap

DAG 1 VAN 5

Lê die regte fondament

Intuïtief verstaan ons dat goeie mense dikwels goeie leiers is en dat goeie leiers instrumenteel is om groot en sterk organisasies te bou. Om die regte fondament vir dienende leierskap in ons eie lewens te lê, moet ons egter die volgorde regkry: karakter voor titel.

Baie mense wat leiers wil wees, verstaan nie waaroor leierskap werklik gaan nie. Miskien is jy in ’n leiersposisie aangestel sonder om jou rol regtig te verstaan. Daar is drie hoofkomponente van leierskap: die leier self, die volgelinge en die situasie. Dit impliseer dat leierskap by ’n persoon begin, nie ’n posisie nie. ’n Leier is nie net iemand met rang of gedefinieerde status nie. Dit is ’n persoon wat sy/haar waardes, wêreldbeskouing en karakter na ’n situasie bring om rigting en momentum te gee. Sterk en gesonde organisasies ontstaan danksy formidabele leiers, en formidabele leiers is goeie mense: mense met sterk morele inslag en duidelike oortuigings.

As leier moet jy vooraf uitklaar waarheen jy gaan, want die beoogde bestemming sal bepaal na watter stemme jy luister. Dit is die moeite werd om jouself af te vra:

  • Het ek duidelikheid oor my eindpunt?
  • Het dit my gehelp om my opsies as leier te bepaal?
  • Wie of wat bepaal my rigting?

Christenleiers is Christene voordat hulle leiers is. En, ironies genoeg, is Christenleiers eerstens – en altyd – volgelinge omdat hulle Jesus volg. Vir my as volgeling van Christus behoort leierskap ’n toonbeeld van Christus se karakter te wees. Besluitneming en delegasie spruit nie uit ’n magsposisie nie. Dit gaan oor ’n lewe wat die moeite werd is om na te volg. Dink aan hoe jou gemeenskap sou verander as mense só sou begin lei. Kyk ook wie jou tans volg – en hoekom.

Jesus het die mite ontmasker dat leierskap gekoppel is aan ’n titel of posisie. Sy leierskapmodel weerhou ons van die gevaar om behep te wees met invloed en gesag. Sy perspektiewe op leierskap was radikaal anders as waaraan sy dissipels volgens die kultuur van destyds blootgestel sou gewees het. Dit verskil ook radikaal van ons huidige wêreld se leierskapkultuur. Interessant genoeg het Jesus se eerste volgelinge en vriende geen idee gehad hoe invloedryk hulle uiteindelik sou wees nie. Hulle het Jesus gevolg, ongeag. Miskien weet jy van leiers wat toekomstige geslagte gevorm het sonder om te besef watter onuitwisbare uitwerking hulle op die wêreld sou hê; of leiers wat soos die dissipels bereid was om te leer, altyd op soek na maniere om te verbeter.

Jesus is steeds besig om leiers te vorm – maar is ons steeds bereid om Hom te volg? Kom ons hou onsself en mekaar verantwoordbaar waar ons neig om leierskapmodelle te volg wat onversoenbaar is met die waardes van Christus. Kom ons lê die regte grondslag vir dienende leierskap, waar leierskap van ’n persoon en nie vanweë ’n posisie kom nie, en probeer die soort mense wees wat ander graag wil navolg.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

’n Oproep tot Dienende Leierskap

Ons is geroep om te lei soos Jesus gedoen het. Leierskap begin by ’n persoon, nie ’n posisie nie, en leiers is daar om God se mense te help om sy doel met hulle te bereik. Hierdie daaglikse leesplan sal stewige leierskapfondamente by jou lê, en jou herinner dat jy eerstens ’n geliefde kind van God is, daarna ’n dienaar en eers dan ’n leier.

More

Ons wil graag Afrika Mhlophe bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikam.co.za/