’n Oproep tot Dienende LeierskapVoorbeeld

’n Oproep tot Dienende Leierskap

DAG 2 VAN 5

Leiers beweeg mense

Dink aan die mense wat die grootste invloed op jou lewe gehad het, wat jou – fisiek of ideologies – van een plek na ’n ander beweeg het. Die waarheid is dat ’n leier iemand is wat met Godgegewe vermoëns en verantwoordelikheid ’n situasie hanteer met die doel om mense te beweeg na wat God se bedoelings vir hulle is. By Bybelse leiers soos Moses, Nehemia en ander kan ons leer wat dit beteken om gedryf te word, nie deur selfsugtige aanmatiging nie, maar deur ’n goddelike doel.

Moses het in ’n bevoorregte Egiptiese huishouding grootgeword voor hy na die woestyn gevlug het waar hy ’n herder geword het. Ek wonder dikwels wat met Moses sou gebeur het as hy nie die ontmoeting met God by die brandende bos gehad het nie. Maar God het onmiskenbaar sy volk se situasie – en hul lyding – onder Moses se aandag gebring. Moses het trouens sy posisie van leierskap te danke gehad aan die slegte posisie waarin God se volk hulle as slawe van die Egiptenare bevind het. Baie leiers sedert Moses het ook na vore gekom vanweë die ongunstige situasie van die mense wat hulle verplig gevoel het om te dien.

Moses was ’n gebedsheld, ’n profeet en ’n wonderwerker, en tog is sy leierskap nie deur enige van hierdie dinge gedefinieer nie, hoe belangrik alles ook al was. Dit is eerder gedefinieer deur hoe hy God se volk na vryheid geneem het. Die instrumente of prosesse van leierskap is net ’n middel tot ’n doel. Die uiteinde moet wees dat God se mense by die plek aankom wat God vir hulle bestem het. Dit is belangrik dat ons eerder moet fokus op die plek waarheen ons mense neem.

Interessant genoeg het Moses nooit die Beloofde Land binnegegaan nie. Sy visie vir die mense was nie oor hom nie, en dit het hom oorleef. Daarteenoor beland sommige leiers in die metaforiese “Beloofde Land”, terwyl die mense wat hulle kwansuis lei steeds in “Egipte” is. Gedryf deur ’n doelwit en nie deur aanmatigende beterweterigheid nie, laat ’n ware leier niemand agter nie. ’n Leier tree op as brug tussen mense se verlede en hulle toekoms. Hulle staan borg vir ’n lotsbestemming, en hul leierskap word gedefinieer deur hoe mense se lewens onder hul invloed verander word.

Wanneer ons lei soos Jesus bedoel het ons moet lei, het ons ’n posisie in gedagte vir ander, nie vir onsself nie. Mag God ons insig en onderskeidingsvermoë gee om te identifiseer waarheen Hy sy mense wil neem, en wysheid om hulle in die regte rigting en na die regte bestemming te stuur. En mag ons die onbaatsugtige krag hê om onsself neer te lê as ’n brug tussen mense se verlede en ’n blinker toekoms; om hulle te herinner dat daar altyd hoop is.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

’n Oproep tot Dienende Leierskap

Ons is geroep om te lei soos Jesus gedoen het. Leierskap begin by ’n persoon, nie ’n posisie nie, en leiers is daar om God se mense te help om sy doel met hulle te bereik. Hierdie daaglikse leesplan sal stewige leierskapfondamente by jou lê, en jou herinner dat jy eerstens ’n geliefde kind van God is, daarna ’n dienaar en eers dan ’n leier.

More

Ons wil graag Afrika Mhlophe bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikam.co.za/