’n Oproep tot Dienende LeierskapVoorbeeld

’n Oproep tot Dienende Leierskap

DAG 3 VAN 5

Situasiegebonde benadering

Miskien het jy ’n snaakse storie, of een van ’n verleentheid, waar jy swak toegerus of onvoorbereid vir ’n wedloop, eksamen of gebeurtenis was. Dalk nie, omdat jy meesal goed voorbereid is in enige situasie. Voorbereiding beïnvloed die impak wat ons maak en dit is ook van toepassing op leierskap. Dit help om te verstaan wat dit beteken om leierskap met onderskeidingsvermoë en deernis te benader en doeltreffend voor te berei. Alleen dan kan ons suksesvol lei en diegene in ons invloedsfeer op die regte plek laat beland.

Jy sal onthou dat Moses sy sterk leiersposisie te danke gehad het aan die swak posisie waarin God se volk hulle in Egipte bevind het. Die mense se benarde situasie het Moses se leiersposisie genoodsaak. Net so was Nehemia ontsteld toe hy gehoor het van die skokkende toedrag van sake in Jerusalem, en daarom het hy opgetree om God se volk te lei. Miskien kan jy jou met hierdie leierskapfilosofie vereenselwig omdat jy diep deur onreg getref is, wat jou tot aksie aangevuur het. Jy is dalk ’n onwaarskynlike leier, maar gedring deur ’n brandende begeerte om die posisie van God se mense te verander.

Toe Jesus in ’n spesifieke dorp aangekom het, het Hy medelye gehad met die skares daar, want hulle was soos skape sonder ’n herder. Hy kon die mense se presiese welstand bepaal en in hul ware geestelike en fisieke behoeftes voorsien deur sy dissipels uit te nooi om hulle te bedien. Miskien moet jy jouself afvra of God jou nooi om saam met Hom mense te neem na die plek wat Hy vir hulle in gedagte het. Indien wel, hoe berei jy voor vir hierdie sending?

Die verhaal van God wat met die seun Samuel praat, illustreer dat wanneer God ons roep, Hy ons nog nie stuur nie. Daar is ’n gaping tussen roep en stuur, waartydens voorbereiding plaasvind. Ons voorbereiding sal ons impak en doeltreffendheid bepaal. Begin bid dat God jou sal help om die konteks waarin Hy jou roep onderskeidend te beoordeel voordat jy ja sê vir ’n leierskapgeleentheid.

Onthou dat ’n voorbereidingstydperk nie jou leierskapopdrag verander nie. Dit verander jou – die leier – egter wel. Jy weet waarskynlik van leiers wat leiersposisies aanvaar het waarvoor hul voorbereiding tekortgeskiet het; leiers wat dalk selfs aan die einde van hul loopbane die hoof was van organisasies wat nêrens heen op pad was nie. Swak voorbereiding kan langtermyn gevolge hê. Nogtans bly jou godgegewe leierskapopdrag dieselfde, ongeag jou vlak van voorbereiding. Nie een van ons wil egter met die onvermydelike spyt saamleef as ons met valse selfvertroue, voortydig, of sonder goeie teologiese opleiding ’n leierskapleemte vul nie.

As leier word jy in ’n spesifieke konteks geroep, en effektiewe leierskap behels om die besonderhede van daardie konteks te begryp. Hoe lank het jy al gebid vir die mense vir wie jy preek? Hoeveel tyd het jy bestee om hul situasies te verstaan? Belangriker nog, verstaan jy waarheen God hulle wil neem, en het jy jou boodskap aan hulle daarop geskoei? Mag God jou verander in ’n leier wat rigtinggewend is om ander te help om hul Godsbestemming te bereik.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

’n Oproep tot Dienende Leierskap

Ons is geroep om te lei soos Jesus gedoen het. Leierskap begin by ’n persoon, nie ’n posisie nie, en leiers is daar om God se mense te help om sy doel met hulle te bereik. Hierdie daaglikse leesplan sal stewige leierskapfondamente by jou lê, en jou herinner dat jy eerstens ’n geliefde kind van God is, daarna ’n dienaar en eers dan ’n leier.

More

Ons wil graag Afrika Mhlophe bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikam.co.za/