HelingstydVoorbeeld

Helingstyd

DAG 1 VAN 5

Dag 1: Verlamde Oorgawe

Jesaja 43:1-2Maar nou Jakob, sê die Here wat jou geskape het, Hy wat jou gevorm het, Israel: ‘Moenie bang wees nie, want ek het jou verlos. Ek het jou by die naam geroep. Jy behoort aan my. Wanneer jy deur diep water van moeilikheid gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur die riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie”. (NLV)

Niks werk uit nie. Moedeloos en magteloos. Genoeg gehad. Hoekom? Waar is God?

Liewe mens, ek wens ek kan vir jou ‘n venster na my siel oopmaak, ‘n kykie in my spasie gee van wat kan gebeur wanneer God beheer van die lewe oorneem. Wanneer jy op dáárdie plek kom waar geen begrip of redenasie inpas nie; waar net jy en niks is …

Met onbeantwoorde vrae probeer jy dringend vasklou aan geloof wat taai voel. Dis dáár waar God jou ontnugtering, seer en wanhoop omvou met sy genade. Máár jy moet Hom toelaat.

Oorgawe is die beste plek om te wees al voel dit nie so nie. “Here, hier is ek nou. Ek weet niks meer nie. Ek het nie antwoorde nie. Ek kan niks orkestreer nie. Ek staar my vas in bewusteloosheid wat my soos ‘n baksteenmuur toegebou het. My siel is in ‘n tronk”.

Al woorde wat ek al gehad het om te sê is: “Here ek het niks. Hoor die vlak asem in my gees.” Die teksvers bevestig wie God is, nie “miskien” of “later” nie. Dis ‘n duidelike stelling in die huidige tyd.

Hierdie gebed en woorde het al telkemale vir my ‘n werklikheid geword. ‘n Rustigheid het stelselmatig my hele wese binnegedring. Ek het onthou dat God in sy Woord sê dat Hy my op die naam geroep het en dat ek Syne is!

Maar hoekom voel dit nie so nie? Omdat die vyand daarop floreer om die werklikheid voor jou kop te gooi, ‘n uitklophou te gee sodat jy nie kan fokus nie en sal val. Maar, God is nie ‘n man dat Hy kan lieg nie, Hy het daardie stelling op skrif gesit vir my en vir jou.

Kies asseblief om eerder met taaiheid in hand, die Woord vas te gryp, om jou hand na God uit te steek.

Gebed:

Vader, woorde ontbreek my so dikwels maar ek vra dat U my hand sal gryp, my geestelike asem sal monitor met U gees.

Onthou, as jy val, val op jou knieë. Dit is die ware posisie tot oorwinning!

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Helingstyd

Dikwels wanneer vooruitsig of hoop kwyn, raak ons klein in gees en postuur. Ons loop kop onderstebo en bou konneksie met die grond. Soms van balans af en wollerig. Ons hart, siel en totale menswees voel stukkend as gevolg van hartseer, trauma, ongewenste gebeure. Maar daar is heling te vind mits jy besluit om die reis saam met God aan te pak.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com