HelingstydVoorbeeld
Dag 5: Geheelde Transformasie
Psalm 103:1-5 “Ek wil die Here prys. Met alles wat binne-in my is, wil ek sy heilige Naam prys. Ek wil die Here prys en nie al sy goeie dade vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes en genees al jou siektes. Hy verlos jou van die dood, bekroon jou met liefde en medelye. Hy vul jou lewe met goeie dinge, vernuwe jou jeug soos ‘n arend s’n”. (NLV)
Soms kan daar iets wees wat jy in ‘n boek lees of raaksien op die televisie en dit kan jou tot diep insigte lei. Vir my is dit meestal vrae teenoor werklikheid en dan die geestelike kant daarvan wat binne-in my hart afspeel.
Ek het myself al dikwels uitgevang dat die besef oor feite wat die lewe bied, verskeie siklusse het. Dit is ‘n vreemde gedagte met baie vraagtekens!
Die hoekies van jou gedagtes trek soos ‘n stout kind aan jou individualiteit. Dit is amper 'n irritasie. Wat en wie is ek? Wat is volgende tussen die geknoopte drade in my lewensruimte? Ek het al begin glo dat knope deel van my roeping is! Die uitsorteer daarvan is ‘n gemors.
Maar, ek voel nie meer "geroep" om te ontknoop nie. Soos ek iewers gelees het, verwoord presies hoe mens soms kan voel: "Ek is 'n mens op soek na 'n woord. Om vernietig te word is die pad na transformasie."
Ek is al vernietig. Verskeie kere. Vernietiging kan vir ons almal ‘n spesifieke betekenis dra. Maar, transformasie is deel van God se resep. Die lewe bied heelwat geregte van onaantreklike formaat. Ek bid aanhoudend. Ek glo roekeloos.
Dit is nie dat ek alles net maklik wil hê nie, net nie so moeilik nie asseblief ..."
Sela.
Gebed:
Here, ek weet dat elke uitdaging of moeilike situasies en seer nie elke dag oor my pad sal kom nie. Ek wil graag transformeer, bly leer en alles wat ek is ín U hande plaas om te bewaar.
Soms kan heling, hetsy emosioneel of geestelik, op ‘n wonderlike manier deur God verpak word, sodat ander mense sy werk kan aanskou deur na jou te kyk!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Dikwels wanneer vooruitsig of hoop kwyn, raak ons klein in gees en postuur. Ons loop kop onderstebo en bou konneksie met die grond. Soms van balans af en wollerig. Ons hart, siel en totale menswees voel stukkend as gevolg van hartseer, trauma, ongewenste gebeure. Maar daar is heling te vind mits jy besluit om die reis saam met God aan te pak.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com