Wanneer ek in die donker skaduwees loopVoorbeeld

Wanneer ek in die donker skaduwees loop

DAG 6 VAN 7

Wanneer ons in donker skaduwees loop (6)

Baie mense volg Jesus vir die “brood” wat Hy vir hulle gee, maar Hy wil hê ons moet Hom volg ter wille van Homself. Merkwaardig genoeg, sal hierdie tyd van donkerte ons help om te sien hoe ons Jesus moet volg — nie ter wille van die “brood” wat Hy vir ons kan gee nie.

Dikwels beleef ons in die donkerte dat God vir ons kwaad is. Ons voel dat God ons “verdra”, maar dat Hy nie regtig van ons hou of vir ons lief is nie. Soms kan dit lyk asof God alles van ons af wegneem. God gebruik al hierdie gevoelens en emosies om vir ons te wys wie en wat ons sonder Christus en sy genade is.

Wat is ons reaksie normaalweg in sulke tye? Sommige mense bly kyk na die donkerte, die versoekings, die hewige aanvalle, die armoede, die nood, die pyn, die onvolmaakthede in hulleself. Ander begin eerder om na God te kyk. Hulle sien die hand van God wat hulle vashou en nie die skaduwee van die hand nie. In sulke tye moet ons verstaan dat, al “voel” dit ook vir ons of God vêr is, ons wel besig is om geestelik vordering te maak. Wat moet ek doen wanneer God my toemaak in die skaduwee van sy hand? Moenie jou eie vure aansteek nie (Jesaja 50:10). Sit stil in die donkerte. Moenie verskrik wees nie (Psalm 37:6-7). Wag. Hoe lank moet ek wag? Totdat God kom. Hoe lank is dit? Totdat Hy kom.

God sien in die donkerte. Donkerte intimideer God nie. Daar in die donkerte is God besig om kragtig te werk.

Soms laat Hy ons wag totdat ons seker is Hy gaan nie weer terugkom nie, maar Hy kom altyd weer. Berei jou hart voor vir wanneer Hy gaan kom. Wanneer jou hart gereed is om hom te ontvang, sal Hy kom. Die enigste ding wat jy kan doen wanneer jy in God se donkerte sit, is om te wag en te rus. God het sy eie tydskedule. Geen hoeveelheid selfbejammering, geskreeu, bekommernis of praat met mense, sal dit verander nie.

Moenie vrees vir die donkerte van eensaamheid, pyn, verwerping, skande, vernedering, hartseer, vervolging of misverstand nie. Omhels dit. Sien dit as ’n gawe van God waardeur Hy jou wil leer hoe tydelik die lewe is, hoe swak jy is, hoe belangrik die ewigheid is en dat ons alles in die lig van die ewigheid moet beoordeel.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer ek in die donker skaduwees loop

Dit gebeur so dikwels dat ons beleef God is "weg". Ek beleef nie meer sy teenwoordigheid nie. Hy werk nie meer soos Hy altyd gewerk het nie. Ek kry nie antwoorde op my gebede nie. Waar is Hy nou? Het Hy sy rug op my gedraai? Het Hy my nie meer lief nie? Hierdie leesplan sal sommige van hierdie vrae beantwoord.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com