Een WoordVoorbeeld
Het jy al gewonder wat dit beteken om geeneen van God se weldade te vergeet nie? Wat dit beteken om nie te vergeet van al die goeie dinge wat hy vir ons doen nie? Ons sien in Psalm 103 dat Dawid ‘n opsomming maak van al die goeie dinge wat God doen. Ek wonder hoe sou jou opsomming lyk?
Myne sal dalk iets wees soos:
Ek besef God werk direk in my lewe. Namate ek dit besef vul dit my met ‘n diepe dankbaarheid en besef ek hoe goed Hy is en ek wil net vir Hom dankie sê. Ek vra Hom om my te help, maar nou wil ek vir Hom dankie sê vir alles wat Hy vir my gee en wat Hy vir my doen.
Ek dink net aan my wese. Ek bestaan. Ek het asem, ek het soveel dele van myself wat aanmekaar gehou moet word vir my om hier te kan wees. Kan ek vir God dankie sê daaroor? Ek is sy idee. Ek is nie ‘n glips nie. Kan ek vir Hom dankie sê daarvoor?
Ek dink aan my vriende, familie, kollegas … mense wat Hy oor my pad stuur sodat ek die lewe kan ervaar. Die vreugde, die pyn, die liefde – alles wat dit moontlik maak om mens te wees. Ek dink aan die mense wat daar is wanneer ek swaarkry of siek is en hulp nodig het. Wanneer my liggaam my faal en ek nie my take kan verrig nie en iemand staan vir my in. Wanneer ek nie weet wat om te doen nie en ek daardie persoon kan bel om raad en insig te vra. Wanneer ek ‘n groot besluit moet neem en ek daardie een vriendin kan vra om saam met my te bid. Ek wil vir Hom net dankie sê daarvoor.
Ek kan vir hom dankie sê en ek kan in dankbaarheid ook iets doen. Ek kan ‘n getuie wees van sy seën. Ek kan vir ander sê en vertel: “God het my geseën. Ek glo dat hierdie ding in my lewe van God af kom.” Jy kan ander diep raak deur dit waardeur jy gaan, maar ook deur die manier waarop jy daardeur gaan.
Oordink dit: Hoe sou my eie Psalm van dankbaarheid daar uitsien? Ek begin met ‘n paar opsommings van die geskenke uit sy hand.
Gebed: Ek vra vir genade om bewus te wees van u liefde vir my.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! (Psalm 103:2) In die kultuur van ons tyd is ons in 'n dankseggingseisoen. Hoe reflekteer, vier ons fees en sê ons dankie? Ons streef daarna om die deug van dankbaarheid te bou, waar ons nie net ons seëninge tel nie, maar ook God se teenwoordigheid in ons lewens erken. Deur te fokus op die goedheid van God, wil ons aanmoediging vind om ander te waardeer, en 'n gemeenskap te skep wat vol vreugde en hoop is.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com