Een WoordVoorbeeld
'n Storie word vertel van 'n ryk pa wat eenkeer sy bevoorregte seun vir 'n reis in die land geneem het om hom te wys hoe 'n armer gesin leef. Hulle het 'n paar dae en nagte op die plaas van 'n arm gesin deurgebring. Op die rit huis toe het hy sy seun gevra wat hy geleer het oor hoe arm mense leef. Die seun het geantwoord: “Ek het gesien ons het een hond en hulle het vier. Ons het 'n swembad wat tot in die middel van ons tuin gaan en hulle het 'n spruit wat geen einde het nie. Ons het ingevoerde lanterns in ons tuin en hulle het die sterre in die nag. Dankie dat pa vir my gewys het hoe arm ons is.”
Kan jy sien watter geskenke en gawes in jou lewe teenwoordig is? Die Here sê soos die pa: "Alles wat ek het is joune. Ek wil hierdie lewe wat ek geskep het ten diepste met jou deel."
As jy kan dankbaar wees vir die lewe wat die Here gee – nie net vir wat jy het nie, maar ook vir díe om jou - kan iets in jou lewe gebeur: ʼn klomp ander emosies word ontsluit. Was jy al by ‘n partytjie waar iemand gevier word – met soveel liefde en egtheid – en ‘n geskenk kry wat hulle so lank voor wag. Of by ‘n troue – wanneer jy deel in die vreugde en dankbaarheid van liefde? Of iemand wat na ‘n lang siekte gesond word? Het jy al gevoel wat gebeur met jou as jy deel in hul dankbaarheid en vreugde? Jou aandag begin verby jouself skuif. Jy begin bly word.
Verwyte hou ons gevange; dankbaarheid laat ons na nuwe moontlikhede beweeg. Verwyte laat ons vasklou aan die negatiewe; dankbaarheid maak ons vry. Verwyte maak ons gevangenisse. Dankbaarheid help ons om ons roeping te volg. Verwyte put ons uit. Dankbaarheid gee ons nuwe lewenskrag en entoesiasme.
Oordink dit: Waaroor kan ek bly wees? Waarvoor is ek dankbaar?
Gebed: Ek vra vir genade om bewus te wees van u liefde vir my.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! (Psalm 103:2) In die kultuur van ons tyd is ons in 'n dankseggingseisoen. Hoe reflekteer, vier ons fees en sê ons dankie? Ons streef daarna om die deug van dankbaarheid te bou, waar ons nie net ons seëninge tel nie, maar ook God se teenwoordigheid in ons lewens erken. Deur te fokus op die goedheid van God, wil ons aanmoediging vind om ander te waardeer, en 'n gemeenskap te skep wat vol vreugde en hoop is.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com