Kom saam, Jesus roep jouVoorbeeld
DAG 2: KOM SAAM, RAAK ‘N VISSER VAN MENSE
"Hy het toe vir hulle gesê: 'Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak'" (Markus 1:17).
Alhoewel Markus nie een van Jesus se dissipels was nie, vertel hy ons baie meer as hulle oor Jesus die Seun van God, die Messias, die Leier en die Verlosser. Hy beklemtoon dat Jesus van Nasaret afkomstig was en dat Hy ons kom leer het om te dien (Markus 1:9). Markus was die eerste evangelis wat die verhaal van Jesus neergeskryf het.
Markus is ‘n interessante karakter vir my. Aanvanklik het dit gelyk asof Paulus nie van hom hou nie, want Markus het op ‘n stadium tou opgegooi toe hulle op ‘n sendingreis was. Ons weet nie hoekom nie, maar net dat Paulus baie kwaad was vir Markus en hom glad nie wou saamneem op die volgende sendingreis nie. Barnabas, Markus se neef, het hom toe oor hom ontferm.
Gelukkig lees ons dat Paulus later Markus se toewyding raakgesien het, hom vergewe en selfs geprys het (Kolossense 4:10,11).
Daar is dikwels misverstande tussen mense. Iets val voor terwyl jy besig is met ‘n taak en dan lyk dit vir ander of jy hulle in die steek laat. Jy het dalk ook al iemand teleurgestel. Mense veroordeel tog so gou en sukkel om ander te vergewe. Mag ek en jy nie in daardie kategorie val nie. Ek bid saam met jou dat jy sal onthou dat wanneerJesus jou roep tot diens, Hy jou potensiaal raaksien. Vir Hom is jy goed genoeg om te doen waarvoor Hy jou jou geroep het en sal toerus. Mag ons ook ander vergewe soos wat Jesus ons vergewe.
Petrus het die fynste besonderhede opgelet en Markus, wat sy interpreteerder was, het die vermoë gehad om dit so weer te gee. Daarom is dit so lekker om oor die ondervindings wat Petrus gehad het eerstehands te lees in gedeeltes soos byvoorbeeld Matteus 8:24, Markus 4:37-38 en Lukas 8:23.
As Jesus sê ons moet vissers van mense word, beteken dit beslis nie ons moet mense “vang” nie. God het ons in die eerste plek geskape om Hom te dien en te eer en tweedens wil Hy hê ons moet mense van Hom vertel sodat nog meer mense die evangelieboodskap kan hoor.
Kom saam met my en vertel vir mense van Jesus.
GEBED: My Here God, gee my asseblief die moed om ‘n visser van mense te word, sodat nog mense gered kan word. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Ek wil jou so graag meer van Jesus vertel. Daarom wil ek jou graag uitnooi: “Kom saam met my. Jesus roep jou!” Kom ons leer hierdie week saam ietsie kleins by Matteus, Markus, Lukas, Johannes, Paulus, Jakobus en Petrus. Ons gaan kyk na die briewe in die Bybel wat hierdie Jesusvolgelinge oor Hom geskryf het.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za