Kom saam, Jesus roep jouVoorbeeld

Kom saam, Jesus roep jou

DAG 7 VAN 7

DAG 7: KOM SAAM, JESUS IS ONS HOOP

"Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word" (1 Petrus1:3,4).

Petrus was ‘n visserman en sy naam was eers Simon, seun van Jona. Sy broer Andreas het hom aan Jesus voorgestel. Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy Petrus se naam van Simon na Petrus verander. Dit beteken “rots”. Jesus wou daarmee erkenning gee aan Petrus se geestelike vernuwing en dat hy die fondament sal wees waarop Christus se kerk gebou gaan word. Na Jesus se hemelvaart het Petrus onverskrokke die leiding geneem en as woordvoerder van die Christene opgetree.

Petrus skryf hierdie twee briewe spesiaal vir die gelowiges wat verjaag is en verspreid in Turkye gebly het. In 1Petrus 1:1 DB staan daar: “Ek skryf aan die mense wat God vir Hom gekies het en wie se lewe nie net om die dinge van hierdie wêreld draai nie.”

Sy verhouding met Jesus laat my baie dink aan hoe ons verhouding met Hom is: Vol oppe en affe. Die een oomblik is jy vol van liefde vir Jesus en die volgende oomblik sê jy jy ken Hom nie. Jy dink nog jy leef na aan die Here en voor jy jou kom kry, doen jy die verkeerde ding.

Petrus het ook maar gesukkel met voortvarendheid, hoogmoed en sy humeur. Hy was vinnig om nuwe dinge te waag en het Jesus dikwels teleurgestel. Tog het Jesus hom keer op keer vergewe en nog 'n kans gegee — net soos Hy nog steeds vir my en jou ook doen.

Petrus was die eerste dissipel aan wie Jesus na sy opstanding verskyn het. Lees gerus Handelinge. Dan sal jy agterkom dat Petrus meestal direk betrokke was by al die gebeurtenisse van die vroegste geskiedenis van die Christene.

Wanneer Petrus ons so vertel van die mens se laaste dae op aarde, skep ek moed. Ons kan weet dat God op die regte tyd sal terugkom om ons te kom haal. Dis ‘n storie van hoop!

GEBED: Dankie, o Heer, dat daar vandag vir my HOOP is. Dankie vir nuwe kanse wat U ook vir my gee. Dankie dat daar niks is waarvoor ek hoef bang te wees nie. My hoop is in U wat my eendag sal kom haal. Amen.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Kom saam, Jesus roep jou

Ek wil jou so graag meer van Jesus vertel. Daarom wil ek jou graag uitnooi: “Kom saam met my. Jesus roep jou!” Kom ons leer hierdie week saam ietsie kleins by Matteus, Markus, Lukas, Johannes, Paulus, Jakobus en Petrus. Ons gaan kyk na die briewe in die Bybel wat hierdie Jesusvolgelinge oor Hom geskryf het.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za