Kom saam, Jesus roep jouVoorbeeld
DAG 5: KOM SAAM, STREK JOU UIT NA WAT VOOR IS
"Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus" (Filippense 3:14 AFR53).
Paulus het dertien van die boeke in die Nuwe Testament geskryf, maar as ek aan Paulus dink, dink ek heel eerste aan hoe hy die hart van die atleet verstaan het. Die Grieke het die Olimpiese Spele elke vierde jaar in die stad Korinte aangebied asook nog ‘n ander kleiner spele elke tweede jaar. Klink my daardie mense se hele lewe het rondom een of ander sportsoort gedraai. Daarom het die Grieke geluister as Paulus praat. “As iemand ‘n resies wil wen, oefen hy eers hard. Met ‘n gewone resies is die prys vir die wenner klein, maar in die resies van hierdie lewe is die prys vir die wenner baie groot en dit hou vir altyd. Daarom haal ek alles uit en speel die spel van hierdie lewe so goed ek kan, om te wen!” (1Korintiërs 9:25, 26 DB).
Dikwels voel dit mos vir ons of die lewe net te moeilik is. Ons vra en vra vir God vir uitkoms met ons finansies of hulp met werk of genesing maar dit voel vir ons of Hy ons nie hoor nie en ons begin dink Hy het sy rug op ons gedraai.
Paulus is ‘n man wat ‘n “doring in sy vlees gehad het” (2 Korintiërs12:7). Niemand weet presies wat dit was nie, maar wel net dat dit iets was wat hy by God gepleit het om weg te vat, maar dit het nooit gebeur nie. In vers sewe besef hy dat God wou keer dat hy dalk hoogmoedig sou word as gevolg van al die wonderlike openbarings wat hy van God ontvang het. Hy het egter geleer om dit te aanvaar en God nog steeds te vertrou. Selfs al is hy in die tronk gegooi, het hy nog steeds liedere gesing om God te eer en briewe aan die gemeentes geskryf om hulle te bemoedig.
Kom ons strek ons uit na wat voor is en los die verlede by God. Kies om Hom te vertrou sodat jy nie moeg word en uitsak nie.
Fokus op die wenpaal. Jesus wag daar vir ons!
GEBED: My Here en my God, help my om die wedloop op hierdie aarde te hardloop deur my uit te strek na wat voor is om die hemelse prys te kan kry. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Ek wil jou so graag meer van Jesus vertel. Daarom wil ek jou graag uitnooi: “Kom saam met my. Jesus roep jou!” Kom ons leer hierdie week saam ietsie kleins by Matteus, Markus, Lukas, Johannes, Paulus, Jakobus en Petrus. Ons gaan kyk na die briewe in die Bybel wat hierdie Jesusvolgelinge oor Hom geskryf het.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za