25 Dae tot KersfeesVoorbeeld
Hierdie teks in Hebreërs 2:14b (NLV): "Jesus [het] ook ten volle mens net soos hulle geword", bring die koms van Jesus en die einde van sy lewe op aarde in verband. As ons dit vir iemand moes verduidelik om hulle te help om die boodskap van Kersfees te sien en te waardeer, sou dit so klink:
"Omdat hierdie 'kinders' mense van vlees en bloed is ..." Hebreërs 2:14a (NLV).
Die term "kinders" kom van die vorige vers (vers 13) en verwys na die geestelike kinders van Jesus, die Messias (sien Jesaja 8:18 en 53:10). God die Vader het juis sy Seun gestuur sodat ons kinders van God kan word. "Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word" Johannes 1:12 (NLV).
"... het Jesus ook ten volle mens net soos hulle geword ..." Hebreërs 2:14b (NLV).
Jesus het reeds bestaan voordat Hy mens geword het. Ons noem sy menswording die inkarnasie. Hy was by God en is God (Johannes 1:1 NLV). Hy het mens geword en daarmee was Hy ten volle God en ten volle mens. Dit is 'n wonderlike Bybelse waarheid, maar terselfdertyd ook 'n misterie.
"... Want Hy kon net sterf as Hy ten volle mens was ..." Hebreërs 2:14c (NLV).
Die rede vir Jesus se koms was sodat Hy uiteindelik sou sterf. Jesus is die heilige, volmaakte en volkome offer vir sonde. Hy is gebore met die doel om uiteindelik ter wille van ons te sterf. Dit is wat mense van Kersfees moet hoor en weet.
"... en Hy kon net deur self te sterf hom die nekslag toedien wat mag oor die dood gehad het – die duiwel ..." Hebreërs 2:14d (NLV).
Deur Jesus se dood het Hy ons vyand, die duiwel, verslaan. Die vyand se groot wapen teen ons was ons sonde. Dit het hom gronde vir aanklag teen ons gegee. Nou, deur Jesus se sterwe, is die prys vir sonde betaal. Sonde is wat ons van God skei. Die aanklag is geregverdig en geldig. Die boodskap van die evangelie is nie dat God ons sonde miskyk of maak of dit nie bestaan nie. Nee, die prys vir ons sonde is klaar betaal. Dit is soos 'n misdadiger wat sy straf uitgedien het. Op grond hiervan spreek God die Vader, as die hemelse Regter, ons vry.
Vers 14 gaan dan verder en wys vir ons die toepassing van hierdie waarheid. Ons is vry van die aanklag. God het ons regverdig verklaar. Dit kan nie omgekeer word nie. Ons is ook vry van vrees vir die dood!
"Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het? God is immers die Een wat ons vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het, wat boonop ook opgestaan het, wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit" Romeine 8:33-34.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/