25 Dae tot KersfeesVoorbeeld
Jesus is die ware Hoëpriester. Hy is nie sondig en swak soos aardse priesters nie. Hy is sondeloos en volmaak. Hy is die Seun van God.
Hierdie Hoëpriester gaan nie in 'n aardse tabernakel in nie. 'n Aardse tabernakel is deur mense gemaak, dit verouder en verswak. Jesus gaan in die hemelse heiligdom in waarvan die aardse tabernakel maar 'n afdruk of 'n skaduwee is. Verder is Hy ook die volmaakte offer vir sonde, want omdat Hy volkome mens is, kan Hy die mensdom verteenwoordig. Omdat Hy God is, het Hy toegang om juis hierdie offer te bring.
Daar is een ander aspek wat aandag verdien en dit is dat Jesus "sit aan die regterhand van die Majesteit" (Hebreërs 8:1b NLV). Geen priester in die Ou Testament kon dit ooit gesê het nie. Hy het 'n ereplek langs ons hemelse Vader. Hy is geliefd en gerespekteer deur God die Vader. Daarom het Hy spesiale toegang tot, nie net tot die hemelse heiligdom nie, maar tot God die Vader self.
Daar is 'n verhouding, noem dit 'n interaksie as jy wil, tussen die drie persone van die Godheid – God die Vader, Jesus die Seun van God en die Heilige Gees. Die drie persone van die Godheid werk saam om ons verlossing te bewerk. God gee sy eniggebore Seun as 'n offer vir ons sonde. Jesus gaan gewillig en bied Homself as offer aan. God die Vader, nou as hemelse regter, aanvaar die offer en die Heilige Gees gee gestalte daaraan deur ons kinders van God te maak.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/