Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Die Lam vergader die kerk as sy eiendom – Openbaring 14
Openbaring 14 fokus op die vervolgde, maar oorwinnende kerk. Dit vorm die hart van die boodskap van Openbaring, want God beskerm sy mense vir die ewigheid – die vervolgdes op aarde (14:1-5), sowel as dié wat reeds in die hemel is (14:6-13) – ten spyte van al die boosheid van hierdie teenstand (14:14-20).
Die hoofstuk skets aan die een kant die wonderlike toekoms van die gelowiges wat aan God getrou bly, sowel as aan die ander kant die afgryslike toekoms van die ongelowiges wat nie met ontsag vir God gelewe het nie en eerder die dier en sy beeld aanbid het. Dit is nog ‘n prentjie van die wederkoms van die Here Jesus Christus.
Die Lam vergader die kerk as sy eiendom – 14:1-6
Die 144 000 mense op Sionsberg is weereens, soos in hoofstuk 7, ’n simbool van die hele volk van God. Hulle het soos “maagde” op onberispelike wyse aan die Here Jesus getrou gebly in die geloofstryd en hulle nie met die wêreld besoedel nie (vgl. Deut 23:9-10; 1 Sam. 21:5; ook 2 Kor. 11:2 waar die hele kerk as ‘n jongmeisie, ‘n “maagd” voorgestel word).
Hulle sing ’n nuwe lied as die eiendom van die Lam in die teenwoordigheid van die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge in die hemel. God se Naam en dié van die Lam is op hulle voorkoppe geskryf.
Waar die vorige visioen van die 144 000 na gelowiges verwys het wat nog midde-in die stryd op aarde is, word hulle hierdie keer as in die teenwoordigheid van die Here self en die ander hemelse wesens geteken. Daarmee dra dit die boodskap oor dat God in staat is om elkeen wat Hy as sy eiendom gemerk het, te bewaar vir die ewige heerlikheid.
Die finale oordeel en verlossing word aangekondig – Openbaring 14:6-13
Die drie engele wat in hierdie perikoop die oordeel en verlossing wat God bring, aankondig regoor die wêreld, doen dit waarskynlik met die hoop op ’n moontlike inkeer van sommige, hoewel dit tog lyk asof die hoop beskaam.
- Die eerste engel verkondig die aanbidding van God as die Skepper.
- Die tweede engel verkondig die val van Babilon (Rome – vgl. 1 Pet. 5:13 waar Rome direk só genoem word).
- Die derde engel verkondig die oordeel oor dié ongelowiges wat volhard in die aanbidding van die dier en sy beeld.
’n Grusame prentjie van foltering word aan die ongelowiges voorgehou, interessant genoeg, as waarskuwing vir die gelowiges om te bly volhard in die geloof en gehoorsaamheid. Elkeen wat die dier en sy beeld aanbid het en gemerk is met sy teken, sal die wyn van God se toorn drink. Hulle sal gepynig word met vuur en swael voor die heilige engele en voor die Lam.
Dink jou dié ewige straf in. Om bedags en snags geen rus te hê nie. Om altyd en ewig jouself te verwyt; het ek maar geluister.
Die Gees roep daarenteen oor dié gelowiges ’n saligspreking uit van ewige rus. Hulle dade volg saam met hulle. Dit is die heiliges wat volhard het in die gehoorsaamheid aan God se opdrag en die geloof in Jesus behou het.
Die oes van gelowiges en ongelowiges word ingesamel – Openbaring 14:14-20
Dan verskyn iemand net soos die Seun van die mens. Hy verskyn as koning (kroon) en regter (sekel). Die uur het gekom vir die oes, omdat die oes van die aarde daarvoor ryp is.
In lyn met die vorige perikoop is daar twee oeste, die graanoes (14:14-16) en die druiwe-oes (14:17-20).
- Die graanoes kan met die gelowiges wat oorgebly het op die aarde verbind word en word deur die Here Jesus self ingebring, een soos ’n Seun van die mens (vgl. Daniël 7:13).
- Die druiwe-oes kan met die ongelowiges verbind word wat deur die engel met die skerp sekel afgesny word en in die groot druiwepers van God se toorn gegooi word.
Die 1 600 stadia waarvan Johannes hier praat, is min of meer 296 km lank. Dit is die hele lengte van Palestina, wat meer as ‘n meter diep (tot aan die tooms van die perde) met die “bloed” van die ongelowiges vol raak!
Boodskap en betekenis
Openbaring 14 beeld die oorwinning van die kerk en die uiteindelike skeiding tussen gelowiges en ongelowiges uit. Ten spyte van die vervolging en teenstand wat die gelowiges op aarde ervaar, word hulle verseker van God se beskerming en die finale verlossing. God is getrou en sal sy kinders deur die geloofstryd dra totdat hulle in sy heerlikheid deel.
Die aankondiging van die finale oordeel en verlossing deur die drie engele dien as ’n aanmoediging vir gelowiges om in die geloof te volhard, aangesien hulle uiteindelik die saligheid van ewige rus sal ontvang, terwyl die teenoorgestelde vir die ongelowiges waar sal wees. Hulle sal die ewige straf tegemoet gaan.
Die verlossende oordeel word voltrek deur ‘n finale skeiding van gelowiges en ongelowiges, soos Jesus ook in Matteus 25 verkondig het met die gelykenisse van die vyf verstandige en vyf dwase maagde, die drie slawe met die talente, waarvan een nutteloos was (muntstukke) en die skape en bokke. Hier word die beeld van ‘n graanoes vir die insameling van die gelowiges gebruik en die beeld van ‘n druiwe-oes vir die oordeel oor die goddeloses, wat in die groot druiwepers van God se toorn vertrap word.
Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com