Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 23 VAN 28

Die oordeel word finaal oor Babilon voltrek – Openbaring 17

Nadat die sewende bak katastrofiese vernietiging oor die hele aarde ontketen is, ook oor Babilon, sien Johannes in Openbaring 17 en 18 visioene waarin die bose “Babilon”, die moeder van alle onsedelikheid, ‘n simbool van die antichristelike magte, se val verder beskrywe word.

Haar val lei tot ‘n groot aantal lofliedere deur die groot skare in die hemel, die 24 ouderlinge en die vier lewende wesens in Openbaring 19:1-10, wat nie net die gedeelte oor Babilon afsluit nie, maar ook die oorgang na die aankondiging van die bruilof van die Lam is.

Openbaring 17 word in twee dele opgedeel. Die eerste deel, vers 1-6, skets die prostituut Babilon in grafiese detail. Die tweede deel, vers 7-18, lê die eerste deel se betekenis uit, amper soos Jesus gedoen het met die gelykenis van die saaier – eers die gelykenis, dán die verklaring daarvan (Matt. 13).

Openbaring 18 tot 19:10 handel oor haar vernietiging.

Die prostituut Babilon – Openbaring 17:1-6

Die eerste prentjie wat vir ons van Babilon, d.w.s. Rome, geteken word, is dié van ’n prostituut wat by baie waters bly en onsedelik verkeer met die konings van die aarde en ’n groot bedwelmende effek op die mensdom het.

In die tweede prentjie sit sy kleurryk op ’n godslasterlike helderrooi dier met sewe koppe en tien horings in die woestyn. Nie net word sy as fundamenteel onrein en onsedelik geteken nie, maar rig sy groot verwoesting aan onder gelowiges. Sy is dronk van die bloed van die heilige getuies van Jesus.

Babilon staan vir die rebelse antichristelike beskawing sedert die eerste voorkoms daarvan met die bou van die toring van Babel (Gen. 11). Hulle opstand en weerstand teen God neem net toe ten spyte van die toorn van God wat met die plae van die sewe trompette en sewe bakke op hulle uitgegooi is.

Die visioen het Johannes heeltemal verstomd gelaat.

Die betekenis van die vrou en die dier – Openbaring 17:7-18

Die betekenis van die simboliek word vervolgens uitgespel.

Die dier waarop sy sit, is die antichris

Die antichris word spottenderwys vergelyk met Christus. Anders as Christus wat is en was en kom, is die antichris een wat was, maar nou nie meer is nie en wel weer kom, maar om onder te gaan. Sy ondergang sal die hele wêreld verras.

Die sewe koppe is sewe berge en sewe konings

Die sewe koppe van die dier is aan die een kant letterlik die sewe berge van Rome, hetsy werklik of simbolies bedoel. Dit word egter ook as sewe konings beskryf wat nie op enige sinvolle wyse met keisers verbind kan word nie. Daarom staan dit moontlik vir die vyf groot koninkryke wat die Romeinse ryk voorafgegaan het: Oud-Babilonië, Assirië, Nieu-Babilonië, Medië-Persië, en die Grieke. Daarna kom die Romeine, wat uiteraard die sesde een is, en die ander (toekomstige) koninkryk(e) daarna, die sewende een. Hoe ‘n mens ook al daaroor dink, die sewe koppe staan vir die politiese mag wat Rome en die ander koninkryke uitgeoefen het en wat wel êrens almal tot niet sal gaan.

Die tien horings

Die tien horings staan ook vir tien konings wat aanvanklik deel van die Romeinse ryk was, maar dan in opstand kom en hulle eie politiese mag vestig. Dit dui op die onderlinge verdeeldheid wat daar in magsuitoefening regdeur die wêreld tussen heersers sal wees. Waarin hulle wel verenig is, is in hulle teenstand teen God. Hulle span saam teen die Lam, maar word deur Hom oorwin. Daarin deel dié wat deur Hom geroep en uitgekies is en getrou gebly het.

Die waters is ‘n simbool vir die nasies

Die waters is ‘n simbool van die volke, menigtes, nasies en tale wat in die proses sal ly, soos Johannes dit self uitlê. Soos dit telkens in die wêreld gaan, draai die konings egter uiteindelik teen Babilon en stroop haar van haar mag en praal. Totdat God ook aan hulle heerskappy ‘n einde maak.

Boodskap en betekenis

Openbaring 17 bied 'n visie op Babilon, die groot prostituut, as 'n verteenwoordiger van al die antichristelike magte wat deur die eeue heen teen God se heerskappy rebelleer. Al die wêreldse stelsels wat in groot welvaart leef, maar in opstand teen God leef, sal uiteindelik vernietig word.

Ons as gelowiges word gewaarsku teen die verleiding van wêreldse magte en goddeloosheid, maar word ook die versekering gegee dat God se oordeel regverdig is en sy koninkryk finaal sal triomfeer.

Dag 22Dag 24

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com