Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 22 VAN 28

God vernietig Babilon met sewe bakke van sy oordeel – Openbaring 16

Openbaring 15 het die tafel gedek vir die uitgieting van die sewe bakke van God se toorn wat nou deur die sewe engele vanuit God se teenwoordigheid in die hemelse tempel en volgens sy wil (tent van die getuienis) uitgegooi word op die aarde.

Waar die seëls ’n kwart van die aarde vernietig het en die trompette ’n derde, tref die bakke eintlik die hele kosmos – aarde, see, riviere, son (hitte en duisternis), eilande en berge sowel as die aardbewoners. Weereens het die oordele van die bakke ooreenkomste met die plae in Egipte sowel as met die oordele van die aanvanklike sewe seëls en trompette.

Die eerste bak

Die eerste bak bring kwaadaardige en bose swere op die aarde en tref al die mense wat deur die bose driemanskap verlei is. Dit kom ooreen met die sesde plaag van swere in Egipte. Dit kom ook ooreen met die eerste trompet wat ook die aarde getref het (Openb. 8:7).

Vir vergelyking: Die eerste seël se wit perd bring politieke verdrukking deur ‘n valse messias vir 'n kwart van die mense (Openb. 6:1-2). Die eerste trompet se hael, bloed en vuur tref 'n derde van die aarde en bring ekologiese chaos (Openb. 8:7). Die eerste bak tref al die aanhangers van die dier uit die aarde, dié wat sy merk dra, met kwaadaardige en bose swere (Openb. 16:2).

Die tweede bak

Die tweede bak gooi bloed soos van ’n lyk oor die see uit en tref al die lewende wesens in die see. Dit kom ooreen met die eerste plaag, die Nyl wat in bloed verander het. Dit kom ook ooreen met die tweede trompet wat ook die see getref het (Openb. 8:8-9).

Vir vergelyking: Die tweede seël van ’n vuurrooi perd het moord en oorlog op aarde gebring (Openb. 6:3-4). Die tweede trompet en tweede bak skep chaos in die ekologie van die oseane en skeepvaart met al die lewe in die see wat getref word (Openb. 8:8-9; 16:3).

Die derde bak

Die derde bak verander die vars drinkwater in bloed. Twee engele verklaar dat dit God se regverdigheid en betroubaar bevestig – bloed (in die drinkwater) vir bloed (van die heiliges en profete) word vergeld. Dit kom ook ooreen met die eerste plaag, die Nyl wat in bloed verander het. Dit kom verder ooreen met die derde trompet wat die vars water getref het (Openb. 8:10-11).

Vir vergelyking: Die derde seël se swart perd het hongersnood en gepaardgaande swaar ekonomiese tye gebring (Openb. 6:5-6). Die derde trompet se oordeel tref die vars water en klimaat, wat die lewe vir baie onhoudbaar maak (Openb. 8:10-11). Die derde bak skep ook chaos in die drinkwater (Openb. 16:4).

Die vierde bak

Die vierde bak bring ’n versengende hitte van die son wat al die mense geskroei het (waarskynlik steeds die aanhangers van die dier, want hulle laster die Here). Tog het hulle voortgegaan om God te belaster sonder om tot bekering te kom. Dit kom nie ooreen met ‘n spesifieke plaag in Egipte nie, wel met die vierde trompet (Openb. 8:12-13).

Vir vergelyking: Die vierde seël se vaalgroen perd het ’n kwart van die aarde laat sterf deur die swaard, hongersnood, pessiektes en wilde diere (Openb. 6:7-8). Die vierde trompet bring kosmologiese chaos (Openb. 8:12). Die vierde bak bring groot leed vir al die mense met ‘n versengende verskroeiende hittegolf (Openb. 16:8-9).

Die vyfde bak

Die vyfde bak bring duisternis vir die dier, die antichris (dit is die dier uit die see – vgl. vers 13 waar net dié dier as dier beskryf word en die dier uit die aarde as die vals profeet aangedui word), en ondraaglike pyn vir die mensdom. Nogtans het hulle nie tot bekering gekom nie. Dit kom ooreen met die negende plaag in Egipte, duisternis. Soos die vyfde trompet die duisternis van die boosheid oor die aarde losgelaat het (Openb. 9:1-12), word duisternis nou deur hierdie bak oor die koninkryk van die dier gebring.

Vir vergelyking: Die vyfde seël het die visie op die martelare in die hemel oopgemaak wat met wit oorwinningsklere beklee is in afwagting vir die regstelling wat God gaan bring (Openb. 6:9-11). Die vyfde trompet, die eerste “wee”, het groot boosheid van demone op aarde losgelaat (Openb. 9:1-12). Die vyfde bak bring groot duisternis oor die demoniese koninkryk en groot pyn vir die mense wat hulle nie tot God bekeer het nie (Openb. 16:10-11).

Die sesde bak

Die sesde bak droog die water van die Eufraatrivier op in voorbereiding vir die oorlog by Armageddon deur die besete konings van die hele bewoonde wêreld wat deur die drie demoniese geeste – hulle lyk soos paddas – van die bose driemanskap daar bymekaargebring word op die groot dag van God, die Almagtige. Die gelowiges word tussendeur gewaarsku om gereed te wees vir dié dag, omdat dit hul onverhoeds kan betrap. Dit kom ooreen met die tweede plaag in Egipte, paddas, sowel as met die oorlog wat die sesde trompet ontketen het (Openb. 9:13-21).

Vir vergelyking: Die sesde seël bring groot kosmiese ontwrigting wat al die aardbewoners van angs vir die toorn van God en die Lam laat wegkruip (Openb. 6:12-17). Die sesde trompet, die tweede “wee”, bring 'n groot botsing tussen die bose magte en die Here waarin 'n derde van die mense sterf, maar wat steeds nie lei tot bekering nie (Openb. 9:13-21). Die sesde bak verwys na die finale oorlog wat God teen al die bose magte voer (Openb. 16:12-16).

Die sewende bak

Die sewende bak word in die lug uitgegooi en handel die oordeel af met ’n geweldige donderstorm met hael, weerlig, en op die koop toe ’n vernietigende aardbewing wat die groot stad – Babilon (Rome) – ineen laat tuimel en die hele aarde gelyk vee. Selfs die eilande en berge verdwyn soos alles gelykgemaak word met die grond. Steeds laster mense egter vir God en kom nie tot inkeer nie.

Die volgende twee hoofstukke sal verder uitbrei oor die oordeel van God op Babilon. Dit kom ooreen met die sewende plaag in Egipte, haelstorms. Op soortgelyke wyse het die sewende trompet die oordeel van God tot ‘n einde gebring (Openb. 11:15-19).

Vir vergelyking: Die sewende seël het, as inhoud, die gebede van die heiliges geopenbaar en die sewe trompette ingelei (Openb. 8:1-5). Die sewende trompet het die koningskap van God “en sy Christus” oor die heelal aangekondig en in werking gestel (Openb. 11:15-19). Die sewende bak voltrek die oordeel oor Babilon wat in die volgende twee hoofstukke verder uitgespel sal word (Openb. 16:17-21).

Boodskap en betekenis

Die sewe seëls, trompette en bakke in Openbaring toon ‘n duidelike ooreenkoms in patroon en progressie, maar het ook verskille in intensiteit en fokus.

Die eerste vier oordele in elke reeks: seëls, trompette en bakke, is verwant en hou verband met groot chaos wat in die ekologie, ekonomie, en menslike samelewings uitspeel.

Die vyfde en sesde oordele in elke reeks: seëls, trompette en bakke, verklaar op verskillende maniere God se regverdige oordeel oor ‘n afvallige mensdom onder die invloed van bose sisteme en die gebrek aan bekering by die mense wat daaronder ly.

Die sewende in elke reeks: seëls, trompette en bakke, is telkens die aankondiging van óf ‘n verdere reeks van oordele, soos in die geval van die seëls, óf soos in die laaste twee reekse van die trompette en bakke, die beëindiging van die teenstand en die inwerkingstelling van Christus se koninkryk.

Dit is ook opmerklik dat die seëls, trompette en bakke op mekaar bou, maar ook al hoe erger en meer intens en omvattend word.

Dag 21Dag 23

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com