Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 26 VAN 28

Die Satan word oorwin en die boek van die lewe oopgemaak – Openbaring 20

Openbaring 20 beslaan drie dele:

  • Die vasketting van Satan en die duisendjarige vrederyk – vers 1-6.
  • Die finale oorwinning oor die Satan – vers 7-10.
  • Die finale “wit-troon” oordeel en die boek van die lewe – vers 11-15.

Die vasketting van Satan en die duisendjarige vrederyk – Openbaring 20:1-6.

Die oorlog van die Lam met die leërs van die hemel teen die antichris en die valse profeet en hulle aanhangers, word opgevolg deur die binding van die draak in die bodemlose put (vgl. vorige beskrywings van sy domein in Openb. 9:1-6; 11:7) met ‘n groot ketting. Die draak word hier as die slang van die oertyd beskryf, die duiwel en die Satan wat deur ‘n engel vir ‘n duisend jaar vasgebind en verseël word, sodat hy nie verder die nasies sou mislei nie.

Met die onheilige drie, die antichris, die valse profeet en die Satan uit die weg geruim, breek die tyd vir die mense van Christus aan om te oordeel en vir die martelare om saam met Christus te regeer.

Let op dat dit lyk asof daar twee groepe in vers 4 genoem word. Daar is mense wat op trone gaan sit om te oordeel. En daar is die siele van dié wat onthoof is vanweë hulle getuienis van Jesus en die Woord van God en saam met Hom regeer. Hulle word verder geïdentifiseer as diegene wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie. Hulle het ook nie die merk op hulle voorkop en op die hand ontvang nie.

Hierdie mense en martelare het deel aan ‘n eerste opstanding uit die dood vóór die res van die dooies lewendig sal word. Hulle regeringstyd beslaan ‘n 1 000 jaar saam met Christus vanuit die hemel en sluit ‘n oordeel in.

Johannes noem hulle gelukkig en heilig. Die tweede dood sal oor hulle geen mag hê nie. Hulle regeer as ‘n koninklike priesterdom van God en van Christus (vgl. 1 Pet. 2:9; Dan. 7:9).

Die vraag wat geleerdes deur die eeue baie besig gehou het, is of dié 1 000 jarige tydperk vóór die Here Jesus se wederkoms aanbreek en of dit ná sy wederkoms aanbreek. Daar is basies drie sienings wat almal met die term millennialisme (Latyn) of chiliasme (Grieks) weergegee word. Albei terme word met die 1 000 jarige tydperk verbind – mille (duisend) en annus (jaar) in die Latynse weergawe en chilioi (duisend) in die Griekse weergawe daarvan.

Postmillennialisme

Die postmillennialisme dink dat Christus tans besig is om die 1 000 jaar van vrede te vestig en dat die wederkoms ná hierdie tydperk sal aanbreek, terwyl die Satan se beweegruimte tans beperk is deur die kruisgebeure op Golgota. Christus is dus tans besig om sy koninkryk te vestig, onder andere deur die kerk, totdat die hele wêreld vol is van die evangelie. Aan die einde van die tyd, word die (tans vasgebinde) Satan losgelaat vir die finale oorwinning en oordeel wat met Christus se wederkoms plaasvind. Ons leef dus tans in die 1 000 jaar van vrede. Dit is breedweg die siening van die Lutherane (Aune).

Amillennialisme

Die amillennialisme dink ook dat ons reeds in die 1 000 jaar van vrede leef, maar sien dit as ’n simboliese tydperk vir die kerk wat dus eintlik tegelykertyd met die oorlog teen die bose plaasvind. Dit is ingelui met die Here Jesus se kruisdood en opstanding wat die Satan gebind het, maar waarin hy tans nog beperkte beweegruimte het. Met Christus se wederkoms vind die finale oorwinning oor die Satan plaas, sowel as die oordeel. Daar is eintlik min verskil tussen die vorige standpunt en dié een. Dit is die siening van die kerkvaders Clement, Origines en Augustinus sowel as die hoofstroom Katolieke en Gereformeerde teoloë (Aune).

Premillennialisme

Die premillennialisme (en chiliasme) dink dat die 1 000 jaar van vrede ná die wederkoms van Christus sal aanbreek waarna die gelowiges met Christus op aarde sal regeer. Dit word op twee hoof maniere verder geïnterpreteer.

  • Een groep werk met die idee van bedelings (dispensasies) waarin die wegraping van gelowiges (óf in óf tydens die groot verdrukking) ’n rol speel, sowel as die Joodse volk se inkeer ná die wederkoms en die vestiging van die 1 000 jaar van vrede.
  • Die ander groep werk ook met die idee van bedelings, maar beskou die wegraping as iets wat ná die groot verdrukking gebeur, waarna die 1 000 jaar van vrede aanbreek, maar waarin Israel nie noodwendig ’n spesiale rol het nie. ’n Hele paar ou kerkvaders het variasies van dié siening ondersteun. Du Rand (A-Z) noem onder andere Serintus, Papias, Justinus die Martelaar, Irenaeus en Tertullianus. Ons leef dus tans voor die 1 000 jaar van vrede.

Al drie hierdie rigtings van interpretasie het groot aanhangers deur die eeue gehad. Vyf belangrike feite in die teks moet in enige standpunt hieroor verreken word:

  • Die dier uit die see (antichris) en die dier uit die aarde (vals profeet) is op dié stadium al uit die weg geruim en in die vuurpoel gegooi deur die Regter-Generaal, die Here Jesus Christus op die wit perd, saam met die leërs van die hemel (Openb. 19). Die beskrywing wat hierna gegee word in hoofstuk 20 van die uiteindelike lot van die derde lid van die bose driemanskap, die draak (Satan), vorm hiermee ’n eenheid.
  • Die een groep gelowiges wat in die 1 000 jarige vrederyk saam met Christus regeer, word as onthoofdes beskryf, d.w.s. dit is martelare wat reeds doodgemaak is vir hulle getrouheid aan die Here. Sommige interpreteer die onthoofding geestelik, maar die onthoofding dui vir my eerder op ’n beskrywing van omvattende martelaarskap in die navolging van die Here Jesus Christus, wat die dood insluit. D.w.s. dit is mense wat al dood is wat saam met Christus op aarde regeer.
  • Dié feit moet saam in ag geneem word met die siele van die martelaar-gelowiges wat ’n opstanding beleef en ’n duisend jaar lank saam met Christus regeer, terwyl die ander dooies nie lewend word voordat die duisend jaar verstryk het nie.
  • Die wederkoms van Christus is nou al op verskillende maniere in die boek aangedui. Die sesde seël het dit met kosmiese tekens beskryf wat die ou hemel laat verdwyn het soos ‘n boekrol wat opgerol word en almal op die aarde wat hulle van die Lam se verskyning en sy toorn probeer verberg het (Openb. 6:12-17). Die sewende trompet het die Christus se ewige koningsheerskappy besing wat die oordeel oor die dooies ingelui het (Openb. 11:15-19). Ook die lied van die 144 000 op Sionsberg het die uur van God se oordeel ingelui. Alles wat bestaan het, het voor God en die Lam neergekniel, en die oes van die aarde is ingesamel – die koringare vir die hemel, die druiwetrosse vir God se toorn (Openb. 14-15). Hier word die wederkoms beskryf met die gereedmaak vir die bruilof van die Lam (Openb. 19:1-6) en die ruiter op die wit perd wat verskyn as regter en generaal vir die finale oordeel (Openb. 19:11-21). Die duisend jaar kom hierna.
  • Wat verder duidelik is, is dat die nasies steeds op die aarde is en in hierdie tyd minder vatbaar is vir die misleiding van die duiwel, net om ná hierdie duisend jaar weer deur die Satan opgekommandeer te word in ‘n finale oorlog teen die Lam. Dit kan eintlik glad nie as vóór die wederkoms gereken word (soos in die postmillennialisme) nie. Dit moet daarná wees.

Hierdie gedeelte se uitleg is ‘n uitdaging, waarskynlik die moeilikste in die hele Openbaring. Maar, die 1 000 jarige tydperk – onthou dit is ‘n simboliese getalm maar steeds ‘n beskrywing van ‘n werklikheid – lyk dus na iets wat ná die wederkoms geplaas moet word.

As ‘n mens dit só interpreteer, is die voordeel dat dit dan ook goed met Daniël 7 se beskrywing van die heerskappy van die heiliges en veral Daniël 12 se beskrywing van die opstanding van die dooies tot die ewige lewe sowel as tot die ewige skande gekoördineer kan word.

Wegraping

‘n Kort woord oor die wegraping. Die idee van die wegraping kom nie in die Bybel voor nie. Dit is 'n idee wat eers in die 1800's na vore gekom het en is deur die Scofield Bible, Hal Lindsey en die Left Behind-reeks gepopulariseer. Dit het geen Bybelse basis nie en kan gerus eenvoudig geïgnoreer word.

Die enigste teks in die Bybel wat naastenby daarmee verbind kan word, is 1 Tessalonisense 4:13-17. Let op dat Paulus daar verwys na die ontslapenes wat in Jesus geglo het wat opstaan uit die dood en na die Here Jesus in die wolke geneem word. Dit verwys dus na iets wat ná die eerste opstanding uit die dood gebeur. Dieselfde gebeur met die gelowiges wat dan nog lewe. Hulle word saam met die opgestane ontslapenes na die Here op die wolke weggevoer om vir altyd by Hom te wees.

Die finale oorwinning oor die Satan – Openbaring 20:7-10

Die 1 000 jarige vrederyk word opgevolg deur ’n finale oorlog van God teen die Satan – en die nasies wat hom volg – verteenwoordig deur die Gog en die Magog, oud-Israelitiese simbole van die vyande van die Godsvolk. Hulle veg teen die “laer van die heiliges” en die “geliefde stad,” simbole vir God se mense.

Esegiël 38 en 39 gee ‘n bietjie meer detail oor die Gog van Magog. Hy rig 'n reeks van ses profesieë aan die Gog van Magog, telkens ingelei met die formule: “So sê die Here my God” (Eseg. 38:3; 10, 14, 17; 39:1, 17). Daarná kom 'n sewende profesie aan die beurt, met dieselfde formule, dié keer gerig aan die hele Israel (Eseg. 39:25-29).

Die profesieë in Esegiël word in dieselfde soort apokaliptiese taal as Openbaring weergegee. Daar is ‘n groot aardbewing, die visse en voëls bewe, die berge word omgekeer, die kranse stort inmekaar. Daar is pes, dood, wolkbreuke, hael en brandende swael wat die leërs vernietig. Alles dinge wat God veroorsaak. Daar is egter ook 'n swaard wat ‘n menslike agent verteenwoordig, wat vergelyk kan word met die ruiter op die wit perd in Openbaring.

Gog is in Esegiël ‘n simbool van al die vyande van die Godsvolk, die simbool van die aartsboelie, die mens/instansie/land wat hulle vreugde vind in die vernietiging van ander. Taylor beskryf Gog as volg: “the personified head of the forces of evil which are intent on destroying the people of God.” (Esegiël). So vind ons dit inderdaad ook in Openbaring.

Dit het min waarde om Esegiël se profesieë met historiese gegewens te probeer verbind. Die punt is dat God van Gog en Magog ‘n offermaaltyd maak soos ons dit in Esegiël en Openbaring lees. Hy verbrand hulle met vuur.

Hieruit leer ons dat die oordeel van God ‘n grusame ervaring is. Dit is bedoel om af te skrik, om te waarsku, sodat mense tot bekering kom en nie die lot van God se teenstanders beleef nie. Uiteraard is dit alles metafore, maar dit is metafore wat ‘n werklikheid beskryf wat waarskynlik erger sal wees as maar net dat God se vyande deur ‘n fisieke vuur verbrand sal word.

Soos Esegiël dit alreeds geprofeteer het, só stuur die hele geskiedenis van die mensdom af op hierdie twee feeste van Openbaring. Aan die een kant sal daar die fees van die bruilof van die Lam van God wees waar gelowiges die vrug van die Here Jesus Christus se lewe en bediening sal geniet (Openb. 19:5-10). Aan die ander kant sal daar die fees van die roofvoëls wees waarin goddeloses self die maaltyd sal wees (Openb. 19:11-21).

Die een groep sal vreugde ervaar. Die ander verguising. Die keuse watter maaltyd jy bywoon, lê in geloof in die Here Jesus Christus. Kies daarom die bruilofsfees!

Die Satan, die verleier van die Gog en Magog, sê Johannes, eindig uiteindelik in dieselfde vuurpoel waar die antichris en die valse profeet reeds is, en waar hulle vir ewig en ewig gepynig sal word.

Die finale “wit-troon” oordeel en die Boek van die Lewe – Openbaring 20:11-15

Die finale groot “wit-troon” oordeel oor alle mense breek aan met die bestaande aarde en hemel wat wegvlug voor God op die troon.

Al die dooies word voor die troon versamel vir die oordeel. Die belangrikes en die geringes. Die dooies uit die see en dié uit die dood en die doderyk. Al die boekrolle met hulle dade word oopgemaak, want dit is die basis waarop almal geoordeel word (vgl. Matt. 25:31-40).

Die dood en die doderyk (Hades – vgl. Openb. 6:8 se vaalgroen perd) is summier in die poel van vuur gegooi waar die onheilige driemanskap reeds is. Dit word as die tweede dood beskryf.

Saam met die boekrolle met almal se dade, is die boekrol van die lewe egter ook oopgemaak, want dit is die uiteindelike basis waarop sommige in God se teenwoordigheid kan bly, en die ander nie. Dié wie se name nie in die Boek van die Lewe gevind is nie, is saam met die dood en die doderyk in die poel van vuur gegooi.

Let op dat niemand gered word deur die boekrolle van die dade nie. Vir dié wie se name in die Boek van die Lewe is, troef die genade egter die verdienste, alhoewel die regverdige dade steeds deel van die proses is (vgl. ook 2 Kor. 5:10 en Rom. 10:14 waar daar sprake is van ‘n regterstoel van Christus / God vir gelowiges).

Die oordeel van God met die Boek van die Lewe is dus beslissend (vgl. Ps. 69:29; Fil. 4:3; Open 3:5; 13:8; 17:8; 20:12,15; 21:27 – vgl. ook die gedenkboek van Mal. 3:16 waarin ook die name opgeskryf is van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam)!

Die Boek van die Lewe herinner ‘n mens ook aan die ander boeke van God, onder andere die boek van die Waarheid in Daniël (Dan. 10:21), die boek waarin Dawid (gelowiges) se lewensdae opgeskryf is (Ps. 139:16), en die boek waarin Dawid (gelowiges) se trane opgeskryf is (Ps. 56:9).

Boodskap en betekenis

Die sentrale boodskap van hierdie gedeelte is dat God se geregtigheid en genade uiteindelik seëvier. Alle mense word op grond van hulle dade voor God se troon geoordeel. Maar die Boek van die Lewe bepaal egter wie vir ewig by God mag wees. Diegene wat nie daarin opgeteken is nie, word saam met die dood en doderyk in die vuurpoel gewerp. Hierdie oordeel onderstreep dat redding uiteindelik deur genade geskied, al speel werke steeds ’n rol in die regverdige oordeel van God.

Dag 25Dag 27

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com