EsterVoorbeeld

Onderskei die Waarheid
Lees: Ester 3:5-11; Psalm 52:4
SOAP: Psalm 52:4
“... met jou vlymskerp tong pleeg jy bedrog.”
Oordenking
Woorde dra ongelooflike krag. Dit kan in ‘n oogwink opbou of afbreek, genesing bring of diep seer maak. In Psalm 52 word ons herinner aan hoe ‘n bedrieglike tong soos ‘n geslypte skeermes is, wat diep sny en oombliklik verwoesting saai. Haman, ‘n man wat vol trots en haat was, het sy woorde gebruik om koning Ahasveros te manipuleer. Hy het die waarheid verdraai om sy eie selfsugtige agenda te dien. Hy het presies geweet hoe om die koning se swakhede uit te buit en sy bose plan te bevorder.
Daar is vir ons ‘n les hierin. Dit maak wel saak na wie ons luister. Ons moet onsself omring met mense wat wyse raad gee en verder ook die vrymoedigheid het om in liefde die waarheid te spreek, selfs wanneer dit moeilik is om te hoor. Dit is maklik om beïnvloed te word deur die opinies rondom ons, veral dié wat ons vertrou, maar nie alle advies is gewortel in goddelike wysheid nie.
Dit is hoekom dit so belangrik is om gewortel te bly in die Woord van God. Wanneer ons voortdurend tyd met Hom deurbring en sy wysheid soek, word ons beter toegerus om waarheid en leuens te onderskei. Hoe meer ons ons verdiep in God se wysheid, hoe minder waarskynlik word dit dat ons mislei word deur die “Hamans” in ons lewens, diegene wie se motiewe moontlik nie suiwer is nie.
Wie se stemme laat jy toe om jou lewe te beïnvloed? Rig hulle jou na God se waarheid? Of is hulle subtiel besig om jou weg te lei van sy Woord? Vra God vir onderskeidingsvermoë en vertrou dat Hy jou sal help om jouself te omring met mense wat die waarheid in liefde in jou lewe sal inspreek.
Gebed
Here Jesus, help my om my te omring met wyse en eerlike raadgewers. Gee vir my die onderskeidingsvermoë om raak te sien wanneer iemand se woorde nie met u Woord ooreenstem nie en lei my om u wysheid daagliks te soek. Mag my eie woorde met u liefde en wysheid gevul wees. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

In 'n wêreld wat daagliks 'n uitdaging op ons geloof plaas, is dit meer belangrik as ooit om sterk en dapper te wees en op te staan vir wat reg is. Die boek Ester is tydloos en is net so toepaslik vir ons lewens vandag. Kom ons leer van Ester om te kies om dapper te wees en die regte ding te doen, te midde van onsekerheid.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans