EsterVoorbeeld

Welkom by ons Bybelstudie: Met Die Oog Op 'n Tyd Soos Hierdie - 'n Studie Van Die Boek Ester.
In 'n wêreld wat daagliks 'n uitdaging op ons geloof plaas, is dit meer belangrik as ooit om sterk en dapper te wees en op te staan vir wat reg is. Alhoewel God nooit in die boek Ester genoem word nie, is sy vingerafdrukke regdeur hierdie ware verhaal sigbaar.
Ester is 'n tydlose verhaal. Dit is so toepaslik vir ons lewens vandag as wat dit was vir die Jode wat deur hierdie gebeure geleef het. Dit is 'n verhaal van hoe God 'n doodgewone weeskind geneem het en haar die koningin van die magtigste nasie van haar tyd gemaak het.
Ester se verhaal herinner ons dat God altyd aan die werk is. Uit hierdie verhaal leer ons dat daar nie so iets soos "toeval" is nie. Hoewel dit met tye voel of God ver of selfs afwesig is, is Hy teenwoordig. God is altyd met ons en aan die werk in ons lewens.
Met die Oog op 'n Tyd Soos Hierdie is 'n boek wat handel daaroor om geloof bo vrees te kies en om in gehoorsaamheid te wandel, ongeag die koste.
Hierdie ongelooflike verhaal van 'n "niemand" wat 'n "iemand" word, is vir elkeen van ons. Dit is 'n verhaal van om te kies om dapper te wees en die regte ding te doen, te midde van onsekerheid. Ons mag God dalk nie altyd sien werk in ons lewens nie, maar ons kan vertrou dat Hy in die besonderhede is, net soos wat Hy so lank gelede in die lewe van Ester was.
Sluit aanlyn by ons aan om meer uit te vind oor ons nie-winsgewende bediening hier by LGG, ons missie en ons ander Bybelstudies. Ons sien daarna uit om in die Woord van God te delf en te ontdek hoe dit lyk om te kies om sterk en dapper soos Ester te wees.
________________________________________
Hier by "Love God Greatly Afrikaans" gebruik ons die "SOAP"-metode vir ons Bybelstudies.
Wat is SOAP?
Hierdie metode maak dit vir jou moontlik om dieper in die verse te delf en meer te sien as wanneer jy net eenvoudig die verse lees en dan aangaan. Ons wil jou aanmoedig om tyd in te ruim om die daaglikse verse te lees en self te sien hoeveel meer jy elke dag uit jou stiltetyd kan kry.
Wat beteken "SOAP"?
Die S staan vir "Scripture":
Jy skryf die teksverse neer. Jy sal verbaas wees om te sien wat God in sy Woord aan jou openbaar deur net tyd in te ruim om die verse neer te skryf.
Die O staan vir "Observation":
Wat sien jy in die verse wat jy lees? Wie is die gehoor? Is daar ‘n herhaling van woorde? Watter woorde staan vir jou uit?
Die A staan vir "Application":
Dit is wanneer jy die Woord van God persoonlik toepas. Wat sê God vandag vir my? Hoe kan ek dít wat ek nou net gelees het in my eie lewe toepas? Is daar iets wat ek moet doen? Watter veranderinge moet ek aanbring?
Die P staan vir "Prayer":
Bid tot God en praat met Hom oor die Skrifgedeelte wat jy so pas bestudeer het. As Hy iets aan jou in sy Woord geopenbaar het, bid daaroor. Bely die sonde in jou lewe wat Hy vir jou uitgewys het.
___________________________________________
Inleiding:
Die boek Ester is 'n vreemde boek in die sin dat dit een van twee boeke in die Bybel is waar God nie by die naam genoem word nie. Hierdie feit hinder baie mense, sommige het selfs bevraagteken of dit in die kanon van die Skrif opgeneem moes word al dan nie.
"... alhoewel die naam van God nie daarin vermeld word nie, rig die vinger van God in baie fyn detail die gebeure om die bevryding van sy volk te bewerkstellig." ~ Matthew Henry
God hoef nie genoem te word nie, want sy werke is duidelik. Ons sien sy hand aan die werk deur al die besonderhede van hierdie fassinerende verhaal, reg van hoofstuk 1 af, met die verregaande partytjie van koning Ahasveros. Hierdie uitspattige gebeurtenis het die val van koningin Vasti teweeggebring en die weg gebaan vir 'n jong Joodse meisie om koningin te word. Deur koningin Ester het God voorsien dat sy volk bewaar word.
Hierdie drama sal ons wegvoer na die Persiese hof van koning Ahasveros, sestig jaar na die eerste terugkeer van die Joodse ballinge na Jerusalem, en nadat die tempel in Jerusalem herbou is. Esterse gebeure vind plaas gedurende dieselfde tyd as die gebeure in Esra, wat die eerste en tweede terugkeer van die Jode uit die ballingskap in Babilon beskryf.
Op daardie tydstip is Ahasveros op die troon, en hy is 'n magtige, welgestelde koning. Hy het hierdie rykdom van sy vader Darius geërf, en hy was nie skaam om daarmee te spog nie. Dis hier waar ons studie sal begin.
Die tema van die boek Ester is die sorgsaamheid van God vir sy mense.
Dit is ons hoop dat Romeine 8:28 ná ons studie van Ester lewend sal word vir ons. Ons bid dat die waarheid dat "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is" vir ons meer betekenis sal hê en dat ons meer bewus sal wees van die sorgsaamheid van God in ons lewens. Ons verlang om volgelinge van Christus te wees wat vol vertroue is dat selfs wanneer God stil is, Hy steeds met doelgerigte presisie werk tot sy eer en ons beswil.
Sluit by ons aan en leer saam met ons meer oor die karakter van God deur hierdie inspirerende boek. Mag ons die werking van God se hand in ons eie lewens sien en geïnspireer word om God des te meer lief te hê.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

In 'n wêreld wat daagliks 'n uitdaging op ons geloof plaas, is dit meer belangrik as ooit om sterk en dapper te wees en op te staan vir wat reg is. Die boek Ester is tydloos en is net so toepaslik vir ons lewens vandag. Kom ons leer van Ester om te kies om dapper te wees en die regte ding te doen, te midde van onsekerheid.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans