EsterVoorbeeld

Die Waarde van 'n Nederige Hart
Lees: Ester 6:7-9; Romeine 12:3
SOAP: Romeine 12:3
“Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.”
Oordenking
Nederigheid is om te erken wie ons is in die lig van wie God is en om te verstaan dat ons niks op ons eie verdien nie. In Romeine 12:3 roep Paulus ons om nederig te leef, maar nie deur onsself minder te maak of ons waarde te ontken nie. Inteendeel, hy spoor ons aan om onsself deur die lens van God se heiligheid te sien, wetende dat elke goeie ding in ons lewens 'n geskenk van Hom is. Ons is sondaars wat gered is deur genade en alles wat ons besit — of dit vermoëns, talente of geleenthede is — kom uit die goedgunstige hand van ons liefdevolle Vader.
Ware nederigheid is nie om minder van onsself te dink nie; dit is om te erken dat God die bron is van alle goeie dinge in ons lewens. Wanneer ons met hierdie perspektief leef, vorm dit hoe ons ander sien en behandel. Nederigheid lei daartoe dat ons ander eer, dat ons hulle waardig ag soos wat God hulle waardig ag en dat ons met genade en goedgunstigheid aan hulle uitreik, wetende dat ons self soveel genade ontvang het.
In vandag se verse uit Ester sien ons 'n duidelike kontras tussen nederigheid en trots. Haman was gevul met gedagtes van sy eie eer, maar God was agter die skerms aan die werk en Hy was besig om iemand met 'n hart wat Hom gesoek het, na die voorgrond te bring. Ester se verhaal herinner ons dat God waarde heg aan nederige harte — diegene wat op Hom staatmaak en ander liefhet soos Hy ons liefgehad het.
Liewe vriendin, kom ons leef met oë wat God se hand in elke seëning sien. Kom ons gee Hom vinnig die lof en dien ander rondom ons met nederigheid, wetende dat elke goeie en volmaakte geskenk van Hom af kom. Wanneer ons met nederigheid leef, word ons 'n weerspieëling van sy liefde en genade aan 'n wêreld wat dit desperaat nodig het.
Gebed
Here Jesus, gee my oë om te sien dat alle goeie dinge in my lewe van U af kom. Vul my hart met u liefde, barmhartigheid en genade. Help my om met 'n nederige hart te leef en dieselfde liefde en genade wat u so goedgunstiglik aan my gegee het, na ander uit te reik. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

In 'n wêreld wat daagliks 'n uitdaging op ons geloof plaas, is dit meer belangrik as ooit om sterk en dapper te wees en op te staan vir wat reg is. Die boek Ester is tydloos en is net so toepaslik vir ons lewens vandag. Kom ons leer van Ester om te kies om dapper te wees en die regte ding te doen, te midde van onsekerheid.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans