BibleProject | Ontdek die tema van die Eksodus-weg in die SkrifVoorbeeld

BibleProject | Ontdek die tema van die Eksodus-weg in die Skrif

DAG 3 VAN 8

"Laat my volk gaan!"

Vandag kyk ons na die verhaal van Moses en Israel wat in slawerny is (Abraham en Sara se nakomelinge) en uittreksels lees uit die bekende eksodus-verhaal in Eksodus 1-14.

Lank voordat die gebeure van die boek Eksodus begin, verhuis die volk Israel doelbewus na Egipte om ’n ernstige hongersnood te oorleef — net soos Sara en Abraham vroeër moes trek. Sake neem 'n slegte wending en hulle bevind hulself as slawe onder 'n wrede farao se heerskappy. Die mense word gedwing om eindelose arbeid te verrig, terwyl die farao hulle mishandel en selfs hulle babaseuntjies doodmaak. Omdat die mense onderdruk en sterwend is, roep hulle tot God om hulp, om 'n uitweg.

Net soos God vir Hagar “gehoor” het (Genesis 16:11), hoor Hy ook hoe die Israeliete “uitroep” in hulle benoudheid en Hy dink aan sy belofte om Abraham se familie ’n groot nasie te maak (Eksodus 2:23-24). Om hierdie belofte te vervul, sal Hy die mense bevry.

God reageer op die mense se lyding (Eksodus 3:7-14) en gebruik Moses om die farao te konfronteer en sy koninkryk met tien plae te vernietig.

Let op hoe die eksodus-patroon hier werk. God red die volk uit die farao se korrupte koninkryk (‘n uitweg). God beskerm die volk teen die Egiptiese weermag en verdeel die Rooisee sodat hulle kan ontsnap (’n weg deur). God lei hulle dan na 'n nuwe lewe in ’n land wat Hy beloof het om vir hulle te voorsien (’n weg in) (Eksodus 14:30-31). Israel is op die eksodus-weg saam met God.

Vrae vir nadenke:

In Eksodus 1:8-12 sien ons hoe die farao van vrees bewe omdat die volk Israel vrugbaar is en soveel “vermeerder” dat hulle die land vul. Kyk weer na God se eerste opdrag aan die mensdom in Genesis 1:27-28 en let noukeurig op die spesifieke bewoording. Vergelyk dan hierdie gedeelte met Eksodus 1:8-12. Watter ooreenkomste en kontraste sien jy? Waarom dink jy is die farao heftig gekant daarteen dat die Israeliete God se oorspronklike gebod gehoorsaam?

Lees Eksodus 2:23-25 en let op die werkwoorde wat met God geassosieer word (wenk: daar is vier in hierdie verse). Hoe laat hierdie werkwoorde jou aan God se karakter en bedrywighede in die wêreld dink? Let wel: Ons het slegs belangrike uittreksels uit die groter Eksodus-verhaal in Eksodus 1-14 bespreek. Lees die hele gedeelte om die volledige prentjie te kry.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

BibleProject | Ontdek die tema van die Eksodus-weg in die Skrif

Hierdie leesplan volg die tema van die Eksodus-weg deur fundamentele verhale in die Ou Testament, sleutelvertellings oor Johannes die Doper, Jesus — en ander gedeeltes waar die hele skepping verlossing ervaar. Saam stel hierdie gedeeltes die eksodus nie as een gebeurtenis voor nie, maar as God se primêre manier van redding – ’n uitweg uit die duisternis, deur herskepping en 'n nuwe lewe in.

More

Ons wil graag BibleProject bedank vir hierdie plan wat hul ontwerp het. Besoek gerus: www.bibleproject.com vir meer inligting.