Reis deur Handelinge in 10 daeVoorbeeld

Reis deur Handelinge in 10 dae

DAG 4 VAN 10

Dag 4: ‘n Antwoord op ‘n eeuoue vraag

Ons lees vandag Handelinge 10–11 en fokus spesifiek op Handelinge 8:29 (2020 vertaling)

Handelinge 8:29

Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan nader en bly by daardie wa.”

Oordenking:

Filippus kry ‘n spesifieke opdrag. Hy is besig om te bid toe hy ‘n spesifieke opdrag kry. Hy is ook getrou aan daardie opdrag. Hy was besig om te bid terwyl hy die opdrag kry. As ons in totale afhanklikheid van God leef, hoor ons wanneer die Heilige Gees met ons praat.

Maar hoe weet ek dat ek nie net myself hoor nie? Hoe weet ek dis inderdaad die Heilige Gees wat met my praat? Hierdie vraag hou mense al vir eeue besig. Miskien moet ons die vraag beantwoord deur vanuit ‘n ander hoek daarna te kyk. Filippus se geval is ‘n unieke een. Ons hoef nie te wag vir ‘n dag waarop ons ‘n stem hoor wat vir ons sê gaan na ‘n sekere plek en doen ‘n sekere taak nie.

Ons kan net ons oë oopmaak vir die wêreld in nood. Die wêreld het God nodig. Die nood is nie op veraf plekke nie – dis orals rondom ons. ‘n Beter vraag is: Wat doen ons wanneer ons iemand in nood sien?

Die persoon met wie Filippus gesels het, was nie in liggaamlike nood nie, maar wel geestelike nood. Hy het geestelike vrae gehad. Dit bring ons terug na Filippus se gebed. Waaroor was hy besig om te bid toe hy hoor hoe die Heilige Gees met hom praat? Dalk was hy besig om te vra dat God vir hom sal wys waar hy spesifiek vir God moet gaan werk?

Die antwoord op daardie eeueoue vraag is: Wanneer ons tyd in gebed deurbring en spesifiek vir God iets vra, gee Hy ons ‘n geleentheid waarin ons op Hom moet vertrou.

Praktiese uitleg:

Wees vandag oop vir die Gees se aanwysings. Dit mag wees om iemand te bemoedig, te help of net te luister.

Geloofsvrae:

  1. Hoe ervaar jy die Gees se leiding?
  2. Is jy bereid om gehoorsaam te wees – selfs al verstaan jy nie dadelik nie?

Gebed:

Heilige Gees, maak my sensitief vir u stem. Laat ek gehoorsaam wees, al voel dit gering of onbelangrik. Amen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Reis deur Handelinge in 10 dae

As gelowiges is dit so belangrik om saam te reis deur Bybelboeke. Hierdie reeks is bedoel vir elkeen wat wil reis deur die Boek Handelinge met 'n spesifieke fokus op sekere tekste en wat dit vir ons sê van die kerk. Sluit aan by ons.

More

Ons wil graag Kerksondermure bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.ksm.co.za