Reis deur Handelinge in 10 daeVoorbeeld

Dag 1: Om nuut te begin
Ons lees vandag Handelinge 1–3, en fokus spesifiek op Handelinge 1:8 (2020 vertaling)
Handelinge 1:8
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.”
Oordenking:
Jesus se opdrag is duidelik: "Julle moet my getuies wees." Hierdie roeping is nie net vir geestelike leiers of sendelinge nie, maar vir elke gelowige. Ons word bemagtig deur die Heilige Gees om te leef as getuies – in woorde, dade, en liefde. Jesus het lank voor sy hemelvaart reeds vir sy dissipels belowe dat Hy die Gees sal stuur om by hulle te wees.
Die Heilige Gees gee ons krag om te doen wat Jesus se opdragte is. Jesus se opdragte is egter nie beperk tot dit wat lank terug in ‘n ver land gebeur het nie. Hy gee vandag nog opdragte vir ons. Ons ken die opdragte; hoe om te leef uit sy Woord, maar ook vanuit die Heilige Gees se leiding. Ons hoef nie bang te wees dat die Heilige Gees ons lei nie. Hy gee ons die krag om Jesus se opdragte uit te leef.
Ons moet getuig. Die Heilige Gees gee ons die krag om dit te doen.
Om te getuig, is nie net om te sê dat ek vir Jesus ken nie, verseker nie. Ons getuig van die liefde wat in ons is wanneer ons iemand wat ons lief het om verskoning vra. Ons getuig ook wanneer ons aanmeld om iets moeilik te doen, soos om ‘n kospakkie te pak wanneer ons self bietjie min geld het om kos te koop.
Hierdie dade getuig beslis van die Heilige Gees wat ons die krag gee om dit te doen. Ook maniere waarop jy nog nooit getuig het nie, is binne jou bereik. Die Heilige Gees nooi ons uit om oor te begin. Ons kan oor begin want die Heilige Gees stel ons in staat om mooi en nuwe maniere te vind om vir Jesus te kan getuig.
Praktiese uitleg:
Vra jouself af waar jy elke dag 'n verskil kan maak. In jou huis, by die werk, op ‘n WhatsApp-groep of in die verkeer – elke oomblik is 'n kans om 'n getuie te wees.
Geloofsvrae:
- Watter plekke het jy al die krag gevoel van getuienis?
- Waar smag jy om meer van die Heilige Gees se krag te beleef?
Gebed:
Heilige Gees, vul my met u krag. Help my om Jesus se liefde en waarheid met oortuiging en sagtheid te leef en te deel. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

As gelowiges is dit so belangrik om saam te reis deur Bybelboeke. Hierdie reeks is bedoel vir elkeen wat wil reis deur die Boek Handelinge met 'n spesifieke fokus op sekere tekste en wat dit vir ons sê van die kerk. Sluit aan by ons.
More
Ons wil graag Kerksondermure bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.ksm.co.za