AltydVoorbeeld

Dag 1: Ten alle tye
Filippense 4:4: “Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: wees bly!”. (Nuwe Lewende Vertaling)
Hierdie teksvers is van dié bekendste verse in die Bybel. Van kleintyd af leer ons die liedjie wat soms in my gees weerklink. Inteendeel, dit sal seker vir altyd so wees!
Hierdie vers is kort, maar dra 'n kragtige boodskap van hoop, vreugde en volharding. Wat besonders is, is dat Paulus hierdie woorde geskryf het terwyl hy in die tronk was – ’n plek van lyding en onsekerheid. Tog roep hy gelowiges op om altyd bly te wees in die Here.
Die sleutel tot hierdie blydskap lê in die frase “in die Here”. Paulus sê nie ons moet altyd bly wees oor ons omstandighede nie, maar wel in die Here. Om in die Here bly te wees beteken om vreugde te vind in sy alomteenwoordigheid, liefde, en getrouheid ongeag wat om ons gebeur en met ons gebeur.
Vreugde in die Here is nie oppervlakkige geluk nie; dit is ’n diep, innerlike vrede en vreugde wat spruit uit konstante geloof.
Hierdie vers herinner ons ook daaraan om dankbaarheid te kweek. Wanneer ons kies om ons te verbly in die Here, verander ons fokus. Ons kyk nie net na ons probleme nie, maar sien ook sy genade, sy voorsiening en sy teenwoordigheid. Dít is daar vir altyd!
Gebed: Here Jesus, soveel keer bevraagteken ek moeilike omstandighedes wat ongemaklik in my spasie kom lê, maar U is altyd met my. U Woord bevestig dit.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Altyd. Wat is die ware betekenis van dié woord? As jy die sleutelbord nader trek en begin soek, sal jy die volgende vind: oneindig, aaneenlopend, sonder ophou, vir ewig en geen onderbreking nie. In ons daaglikse lewens is daar tye van vreugde en lewenslus, maar ook van hartseer, onsekerheid, spanning en vrees. Te midde van hierdie wisselende seisoene herinner die Bybel ons telkens daaraan dat God altyd met ons is, dus aaneenlopend, sonder ophou, geen einde daaraan nie. Hierdie waarheid bring diepe vertroosting, hoop en 'n gevoel van veiligheid. Nou en vir altyd!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com