AltydVoorbeeld

Dag 4: Bewustheid
Psalm 16:8: "Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand; daarom sal ek nie struikel nie". (NLV)
Hier lees ons van 'n diep getuienis van vertroue en konstante bewussyn van God se teenwoordigheid. Die Psalmdigter sê nie net dat hy in God glo nie, maar dat hy Hom altyd voor oë hou. Hiérdie woord, altyd, dui op 'n deurlopende ingesteldheid, 'n lewenswyse waarin God voortdurend deel is van elke oomblik.
In ons daaglikse lewe word ons dikwels oorval deur bekommernisse, besluite en onsekerheid. Dis maklik om van koers af te dwaal en ons fokus te verloor. Maar as ons die Here altyd voor oë hou, verander dit ons perspektief. Ons begin God sien in die kleiner dinge: in die asemhaling van die oggend, in die glimlag van 'n vreemdeling, in die natuur en in die stilte van gebed.
Die tweede deel van die vers gee vir ons 'n groot belofte: “Hy is aan my regterhand, daarom sal ek nie struikel nie.” God se nabyheid bring stabiliteit. Sy teenwoordigheid aan ons regterhand beteken Hy is nie net 'n toeskouer nie, maar ‘n aktiewe helper, ‘n beskermende metgesel in alle situasies.
Wanneer ons God altyd voor oë hou, leef ons met 'n bewustheid van sy leiding, sy liefde en sy getrouheid. Selfs in tye van twyfel of gevaar, weet ons ons sal nie wankel nie, want ons is nie alleen nie.
Laat ons dan doelbewus kies om die Here elke dag en in elke situasie voor oë te hou, nie slegs in moeilike tye nie, maar vertrou dat Hy aan ons regterhand sal bly staan vir altyd!
Gebed: Here, soms kan my kop rondhardloop tussen gister en môre; ek vergeet van vandag. U is reeds vooruit in hierdie dag daarom sal ek nie struikel nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Altyd. Wat is die ware betekenis van dié woord? As jy die sleutelbord nader trek en begin soek, sal jy die volgende vind: oneindig, aaneenlopend, sonder ophou, vir ewig en geen onderbreking nie. In ons daaglikse lewens is daar tye van vreugde en lewenslus, maar ook van hartseer, onsekerheid, spanning en vrees. Te midde van hierdie wisselende seisoene herinner die Bybel ons telkens daaraan dat God altyd met ons is, dus aaneenlopend, sonder ophou, geen einde daaraan nie. Hierdie waarheid bring diepe vertroosting, hoop en 'n gevoel van veiligheid. Nou en vir altyd!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com