AltydVoorbeeld

Dag 3: Medisyne
Psalm 119:8: "U voorskrifte sal ek nakom. Moet my net nie verlaat nie". (NLV)
‘n Kort maar kragtige vers wat getuig van 'n diep verbintenis tot God en sy Woord. Die Psalmdigter verklaar dit. In ‘n ander vertaling lees dit: “Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nooit heeltemal nie.” Die woord “voorskrifte” staan uit, soos ‘n voorskrif van ‘n dokter wat medisyne voorskryf vir genesing van my ligaam. Hierdie vers bring ook twee belangrike temas van genesing na vore: gehoorsaamheid en afhanklikheid.
Eerstens spreek die Psalmdigter 'n vaste voorneme uit; om God se insettinge te onderhou. Dit dui op 'n opregte begeerte om volgens God se wil te lewe. Insettinge verwys na God se bepalings en opdragte, en om dit te onderhou beteken om dit in jou lewe toe te pas. Hierdie verbintenis kom nie uit plig alleen nie, maar uit liefde en eerbied vir God.
Tweedens smeek die Psalmdigter God om hom nooit (heeltemal) te verlaat nie. Dit wys op die mens se bewustheid van sy eie broosheid. Al probeer ons om gehoorsaam te wees, weet ons dat God se teenwoordigheid en genade altyd nodig is. Daarsonder is selfs die mees opregte pogings onvoldoende. Dié woorde weerspieël 'n nederige hart wat erken dat ware geestelike groei slegs deur God se nabyheid en leiding moontlik is.
Geloof is nie net 'n stel reëls is nie, maar 'n verhouding met die Here. In ons strewes, mislukkings en pogings om reg te leef, bly God naby. Hierdie vers bemoedig elke een van ons om getrou te bly aan die Woord van God en Hom altyd te vertrou vir krag en genade.
Gebed: Vader, wat is ek as mens sonder die belangrikste kompas in my lewe – u Woord? Ek wil nooit verlate voel nie. Ek wil gehoorsaam wees.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Altyd. Wat is die ware betekenis van dié woord? As jy die sleutelbord nader trek en begin soek, sal jy die volgende vind: oneindig, aaneenlopend, sonder ophou, vir ewig en geen onderbreking nie. In ons daaglikse lewens is daar tye van vreugde en lewenslus, maar ook van hartseer, onsekerheid, spanning en vrees. Te midde van hierdie wisselende seisoene herinner die Bybel ons telkens daaraan dat God altyd met ons is, dus aaneenlopend, sonder ophou, geen einde daaraan nie. Hierdie waarheid bring diepe vertroosting, hoop en 'n gevoel van veiligheid. Nou en vir altyd!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com