Psalms 68:7-18

Psalms 68:7-18 AFR20

God laat eensames weer in 'n huisgesin woon, Hy lei gevangenes uit na voorspoed, maar hardkoppiges woon in 'n verskroeide land. O God, toe U voor u volk uitgegaan het, toe U vooruitgestap het in die wildernis, •Sela het die aarde geskud. Ook die hemel het gedrup voor God, die Een van Sinai, voor God, die God van Israel. Milde reën het U, o God, laat uitsak oor u erfdeel; wat uitgeput was, het U laat herleef – u woonplek waarin hulle woon. In u goedheid het U dit gereedgemaak vir magteloses, o God. My Heer het 'n boodskap uitgestuur; die vroue wat die goeie tyding bring, is 'n groot skare: “Die konings met leërs vlug, hulle vlug! Die mooi vroue tuis verdeel die buit. As julle tussen die saalsakke gaan rus – daar is duiwe, hulle vlerke is met silwer bedek en hulle penvere met geelgroen goud.” Wanneer die Almagtige die konings in die land uitmekaar jaag, sneeu dit op die berg Salmon. Massiewe bergreeks, bergrug van Basan, bergreeks met pieke, bergrug van Basan, waarom kyk julle met afguns, bergreekse met pieke, na die berg wat God gekies het as sy woonplek? Dit is ook waar die HERE vir altyd sal woon. Die strydwamag van God is tienduisende, duisende der duisende. My Heer het van Sinai af by die heiligdom aangekom.