Advent: Die Reis Tot By KersfeesVoorbeeld

Advent: The Journey to Christmas

DAG 5 VAN 25

Geregtigheid Herstel 

In 'n profesie in Sagaria 9, belowe God dat die komende Koning redding en geregtigheid sal bring. Dit beteken dat God met Kersfees in die persoon van Jesus Christus, geregtigheid na die aarde toe gebring het. Dit is presies wat die wêreld nodig gehad het (en nog steeds nodig het). In Romeine 3:10 beskryf die apostel Paulus die treurige toestand van die mensdom: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie." Ons is almal in dieselfde situasie; in sonde gebore en nie in staat om onsself regverdig te maak nie. In Romeine 1:17b sê Paulus egter: "Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe." Christenskap vereis nie dat jy geregtigheid moet verdien nie, maar dat jy Jesus se geregtigheid "in geloof" ontvang. Dit gaan dus nie oor wie ons is nie, dit gaan oor wie Hy is. 

Na Jesus se geboorte het Hy sy hele lewe lank in geregtigheid geleef. Hy was volmaak en het naby God geleef en sy Vader se plan sonder huiwering gevolg. Aan die kruis het daar egter 'n uitruiling plaasgevind. 2 Korintiërs 5:21 sê: "God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees." Toe Jesus vir ons sonde gesterf het, het Hy al ons ongeregtighede op Hom geneem en dit vernietig, en in ruil daarvoor het Hy ons regverdig gemaak en in 'n noue verhouding met God gebring. 

Onthou dat God se liefde vir ons nie op enigiets wat ons doen, of nie doen, gebaseer is nie. Dis slegs gebaseer op wat Jesus alreeds gedoen het. Romeine 5:8 sê: "God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was." Die regverdige Een is met Kersfees gebore om God se liefde vir ons op die mees kragtige manier moontlik te wys, deur ons regverdig in sy oë te maak. 

Gebed: Vader, U is vol wonderbare genade! Ek ontvang vandag u geregtigheid deur geloof in u Seun, Jesus. Ek besef dat U slegs tevrede is met my oor wat Jesus vir my gedoen het. Dankie Jesus, dat U my skuld op U geneem het. Versterk my in hierdie wete en met vertroue dat ek vasstaan in u geregtigheid. Help my om te onthou dat ek dit nie verdien het nie, want dan kan ek U my hele lewe lank met nederigheid en dankbaarheid dien.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Advent: The Journey to Christmas

Kersfees is waarlik die grootste verhaal wat ooit vertel is: een van God se volmaakte getrouheid, krag, redding en onfeilbare liefde. Kom ons gaan die volgende 25 dae op reis om God se ingewikkelde plan te ontdek — om die wêreld van sonde te red en die belofte van die geboorte van sy Seun te vervul.

More

Baie dankie aan "Church of the Highlands" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek: https://www.churchofthehighlands.com/