Pa-wees saam met GodVoorbeeld

Pa-wees saam met God

DAG 4 VAN 7

Liefde word met drie letters gespel: T-Y-D

Billy Graham het eendag dié wyse woorde gesê: “Kinders spel liefde met drie letters: T-Y-D.” ’n Mens kan hieroor debatteer tot jy blou is in die gesig, maar dis wat jou kind van jou vra: jou tyd. Om tyd saam deur te bring is een van die maniere waarop jou kind jou liefde vir hom of haar ervaar.

’n Mens moet werk aan ’n verhouding met jou kind. Geen verhouding sal ooit bestaan of in stand gehou kan word as jy nie tyd saam met ’n ander persoon deurbring nie. Dink ’n bietjie terug aan jou jonger dae: geen verhouding met ’n meisie het ooit gewerk as julle mekaar nie gereeld gesien het nie. Daarom het die een vakansieromanse na die ander doodgeloop. Dis vandag nog steeds so en dit sal môre ook so wees. Dink dan ook spesifiek aan suksesvolle verhoudings in jou lewe: tyd saam is ’n noodsaaklike vereiste. Onthou ook dat tyd saam nie beteken om saam voor die TV te sit en nie een woord met mekaar te praat nie. Tyd saam is waar julle werklik by mekaar uitkom en die een die ander een se hart kan hoor. Dit vra onverdeelde aandag vir daardie oomblik.

Pa, vat jou besige dagboek en gaan sit by elke kind. Dit wys al klaar vir hulle hoe belangrik hulle vir jou is. Om tyd in Pa se dagboek te kry maak my ’n prioriteit in sy lewe! Maak lekker afsprake soos saam eet, saam kuier, koffiewinkel toe, roomyswinkel toe en saam oefen. Jy sal ’n sigbare verandering in jou kind se gesindheid en houding teenoor jou bespeur.

HERE, HELP MY OM MY PRIORITEITE REG TE KRY. MY KINDERS IS VIR MY BAIE BELANGRIK EN EK WIL GRAAG HÊ HULLE MOET LIEFDE VAN MY AF ERVAAR. WYS VIR MY PRAKTIESE DINGE WAT EK KAN DOEN OM MEER TYD SAAM MET MY KINDERS DEUR TE BRING.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Pa-wees saam met God

Die lewe is so gejaagd en veeleisend en pa’s weet nie meer wat belangrik en wat prioriteit is nie. Elke pa behoort God se hart oor pa-wees te ken en te verstaan. Hierdie oordenkings sal jou motiveer om jou pa-wees met oorgawe te gaan leef. Dié 7-dag leesplan is saamgestel uit Johan Smith se boek, ’N PA VAN FORMAAT, en maak die Bybel prakties vir pa's.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.cumbooks.co.za