Pa-wees saam met GodVoorbeeld
Wanneer konflik in jou huis broei
Konflik is ’n gegewe. Om daarvan te probeer vlug is dom en onproduktief. Hoe ’n mens konflik hanteer, bepaal egter of dit ’n wen-situasie vir ’n gesin gaan wees en of almal verloorders in die proses gaan wees.
Maak vrede daarmee dat daar konflik in jou huis gáán wees, tussen jou en jou vrou, tussen jou en jou kinders, tussen jou vrou en jou kinders en tussen die kinders onderling. Om dit te ignoreer bring niemand iets in die sak nie. Dit moet hanteer word. Gewoonlik is een of meer persone kwaad vir mekaar en vlieg mekaar in die hare. Nie een wil ingee nie, want hulle sal eerder in die geveg sneuwel as om te verloor. Hier is ’n pa se rol baie belangrik: leer jou kinders die beginsel dat dit nie gaan oor wié reg is nie, maar wát reg is.
Maak ook seker dat jy hierdie beginsel uitleef as jy in konflik betrokke is. Dit gaan oor die saak en nie die persoon nie. Daarom moet julle nooit in konflikhantering persoonlik raak en mekaar afkraak nie. Sit die saak op die tafel en praat daaroor. Jy kan ook help dat elkeen ’n regverdige spreekbeurt kry. As dit nodig is, sit met ’n horlosie en laat elkeen byvoorbeeld vir twee minute praat. Elkeen kry presies dieselfde tyd en elkeen praat dieselfde aantal kere. Dan kan elkeen met voorstelle vorendag kom om die probleem op te los. Gebruik dan van almal se voorstelle om ’n geskikte oplossing vir die probleem te kry.
Gaan een stap verder en vra watter lesse uit die konflik geleer is, en wat in die toekoms vermy moet word. Op dié manier leer jy en jou kinders om van konflikhantering ’n groeigeleentheid te maak, eerder as die wen van ’n mini-oorloggie. Konflik kan mense nader aan mekaar bring en groei in verhoudings bewerkstellig. Aanvaar die uitdaging en wees ’n voorbeeld, ook wat konflikhantering betref.
HERE, HELP MY OM KONFLIK IN MY HUIS REG TE HANTEER EN TE BESTUUR. HELP MY OM DIE MINSTE TE WEES WAAR EK BETROKKE IS, SODAT MY KINDERS DAARUIT KAN LEER.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe is so gejaagd en veeleisend en pa’s weet nie meer wat belangrik en wat prioriteit is nie. Elke pa behoort God se hart oor pa-wees te ken en te verstaan. Hierdie oordenkings sal jou motiveer om jou pa-wees met oorgawe te gaan leef. Dié 7-dag leesplan is saamgestel uit Johan Smith se boek, ’N PA VAN FORMAAT, en maak die Bybel prakties vir pa's.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.cumbooks.co.za |