Pa-wees saam met GodVoorbeeld
Leef Jesus prakties
Jou kind smag na jou geestelike leiding en voorbeeld. Jou kind wil jou volg. Dalk is jou kind besig om jou te volg. Maak dit jou opgewonde, of maak dit jou bang?
’n Lewende verhouding met Jesus bestaan slegs as dit sigbaar is: dit moet gehoor en gesien word. Jou kind luister hoe jy praat. Is jou taalgebruik dié van ’n Christen? Praat jy met deernis en respek van alle mense? Is jou woorde teenoor jou kinders en wat jy van ander mense sê opbouend of afbrekende dolksteke? Jou kinders luister nie net na jou nie, maar hou jou ook stip dop. Is jy ’n gereelde, blymoedige kerkganger, of is dit slegs pligpleging in jou lewe? Loof en prys jy die Here met volle oorgawe, of staan jy met ’n suur gesig in die kerk? Is jy betrokke by mense in nood en hoe hanteer jy bedelaars en boemelaars? Hoe tree jy teenoor die ma van jou kinders op: met liefde en respek? As jou kinders na jou vriende kyk, watter voorbeeld sien hulle in jou keuses? Op watter maniere verkeer jy gesellig en wat kan jou kinders daaruit leer? Watter soort vriend is jy vir jou vriende? As daar nood is, is jy beskikbaar en bereid om ’n verskil te maak? Leef jy die waarheid teenoor jou vriende en is hulle saam met jou getuies vir die Here?
Ek besef dis ’n klomp vrae wat jou ietwat kan oorweldig. Die punt is egter of jy jou verhouding met die Here sigbaar teenoor jou kinders uitleef. Natuurlik gaan jy foute maak, natuurlik gaan jy nie alles perfek doen nie. Daarvoor bestaan die woord “genade”. Jy kan altyd uit jou foute leer en dinge regmaak. Die werklike beginsel is dit: leef Jesus prakties as Pa.
HERE, EK BESEF DAT DAAR ’N GEWELDIGE VERANTWOORDELIKHEID OP MY, AS PA, SE SKOUERS RUS. HELP MY OM WERKLIK IN WOORD EN IN DAAD ’N VOORBEELD VIR MY KINDERS TE WEES VAN HOE ’N VREUGDEVOLLE, LEWENDE VERHOUDING MET JESUS DAAR UITSIEN.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe is so gejaagd en veeleisend en pa’s weet nie meer wat belangrik en wat prioriteit is nie. Elke pa behoort God se hart oor pa-wees te ken en te verstaan. Hierdie oordenkings sal jou motiveer om jou pa-wees met oorgawe te gaan leef. Dié 7-dag leesplan is saamgestel uit Johan Smith se boek, ’N PA VAN FORMAAT, en maak die Bybel prakties vir pa's.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.cumbooks.co.za |