Pa-wees saam met GodVoorbeeld

Pa-wees saam met God

DAG 7 VAN 7

Draer van hoop 

Jy as pa speel ’n baie groot rol in jou huis en in ons land, as draer van hoop. As al die pa’s net besef watter kragtige, hoopvolle boodskap hulle gesamentlik na ons jongmense kan stuur, met ’n positiewe gesindheid jeens ons land en die toekoms. Ons jongmense honger en dors daarna. Hulle smag daarna. Die media bestook hulle met die negatiewe en die verdoemende. Goeie nuus is mos selde sensasioneel.

Jou vreugde en positiewe gesindheid kan baie doen om jou kind positief en hoopvol te maak. Die wortels daarvan lê in ’n sterk en gevestigde verhouding met die Here. Hoeveel beloftes dat God getrou is en vir sy kinders sal sorg, is daar nie in die Bybel nie? Hoeveel beloftes van oorvloedige lewe en voorspoed vir die toekoms is daar nie vir sy kinders opgeteken nie? Daar is letterlik duisende beloftes van God aan sy kinders in die Woord opgeteken. Wie moet dit aan ons jongmense oordra? ’n Pa moet die beloftes ken, dit onverbiddelik glo, oordra en uitleef. Daarsonder sal ons nooit die vrees-psigose onder jongmense kan verander nie. ’n Stuk naïewe vertroue in die Here is die voorbeeld wat pa’s na hulle kinders moet uitleef. 

Waar soek jy na hoop? Waar sien jou kinders jou na hoop soek? Weet dat hoop nie ’n definisie is nie. Hoop is ’n persoon: Jesus Christus. Solank Jesus leef, sal daar hoop wees. God leef en Jesus is Immanuel: God met ons! Dit sal so bly tot aan die einde van dae. Daarom kan elke pa wat Jesus ken en voluit vir Jesus leef, ’n draer wees van die wonderlike boodskap van hoop aan ons jongmense.

Leef daarom met vreugde, ’n positiewe gesindheid en ’n lus vir die lewe. Weet verseker dat jy dit aan jou kind kan oordra. Maak jou leuse een van hoop in die toekoms. Leef om ’n verskil te maak. Daag jou kind uit om self ’n verskil te maak.

HERE, EK BESEF NOU EERS HOE BELANGRIK DIT IS DAT EK ’N DRAER VAN HOOP EN ’N VOORSPOEDIGE TOEKOMS MOET WEES. HELP MY OM NEGATIEWE UITSPRAKE TE VERMY EN MAAK MY ’N DRAER VAN HOOP AAN DIE JONGMENSE IN HIERDIE LAND.

Hierdie oordenkings is saamgestel uit: ’N PA VAN FORMAAT, deur Johan Smith © Christelike Uitgewersmaatskappy. 

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Pa-wees saam met God

Die lewe is so gejaagd en veeleisend en pa’s weet nie meer wat belangrik en wat prioriteit is nie. Elke pa behoort God se hart oor pa-wees te ken en te verstaan. Hierdie oordenkings sal jou motiveer om jou pa-wees met oorgawe te gaan leef. Dié 7-dag leesplan is saamgestel uit Johan Smith se boek, ’N PA VAN FORMAAT, en maak die Bybel prakties vir pa's.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.cumbooks.co.za