Geloof Bo VolmaaktheidVoorbeeld

Lees: Genesis 14; Hebreërs 7
SOAP: Hebreërs 7:25
Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.
Oordenking
Soos die verhaal van Abram voor ons oë afspeel, sien ons hoe God met hom is. Abram se geloof in die belofte het steeds gegroei en die skrywer van Genesis wys ons as lesers voortdurend hoe God getrou was om sy belofte na te kom.
Lot het gekies om naby die stad Sodom te woon, en ons sien reeds die gevaar en die rampe wat oor hom gaan kom as gevolg van sy keuse. Toe Lot en sy gesin deur die vier konings gevange geneem is, is Abram se hulp ingeroep. God het belowe om Abram 'n groot nasie te maak, en namate sy besittings en mag toegeneem het, was dit duidelik dat dit God was wat hom die oorwinning gegee het.
Abram het die stryd aangesê en sy vyande uit die land gedwing. Hy het alles wat verlore geraak het, teruggevind en die gevangenes gered. Abram se optrede het die krag getoon van die God wat met hom was, 'n God wat sy vyande vernietig en gevangenes vrymaak.
Die eerste vermelding van priesters in die Skrif is in Genesis 14, met die verslag van Melgisedek, die koning van Salem. Toe Abram Melgisedek ontmoet, herken hy hom dadelik as priester van die Allerhoogste God. Abram het 'n tiende van alles wat hy gehad het, deur Melgisedek, aan God teruggegee. Abram toon sy volgehoue geloof in God se belofte om hom te seën toe hy weier om iets van die koning van Sodom te aanvaar. Anders as die manier waarop hy geskenke en besittings van die farao in Egipte geneem het, het Abram die geskenke van die koning van Sodom geweier en vertrou op God om vir hom te voorsien en hom te seën.
Jesus is, net soos Melgisedek, die Hoëpriester wat deur God aangestel is. Hy is in staat om namens ons voor God te staan en ons van ons sonde te reinig, omdat Hy geen sonde gehad het nie. Hy is ons Hoëpriester en tree altyd vir ons in by God. Hy alleen kan ons volkome red. Ons kan ons geloof volkome in Hom stel, vol vertroue dat wat Hy ook al belowe, Hy sal vervul. Hy alleen kan volkome red, intree, ons vyande vernietig en die gevangenes vrymaak.
Gebed
Here Jesus, U is die Hoëpriester vir ewig. U maak my vry, U tree vir my in voor God en U red my van die vyand. Help my om te volhard om sterk geloof in U te hê en te glo dat wat U belowe, U sal doen. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Wat vra God van ons? Dis ‘n vraag waarmee ons almal worstel. Al wat God vra is dat ons glo. "Geloof Bo Volmaaktheid" ondersoek die geloofslewens van Abram (later Abraham genoem) en sy seun Isak. Hulle was nie volmaak nie. Daar was talle oomblikke toe hulle dade nie met hulle geloof gestrook het nie. Abram het op die Here vertrou en die Here het hom as regverdig gereken. (Genesis 15:6)
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/