Gemaak Vir …Voorbeeld

Gemaak Vir …

DAG 3 VAN 12

DAG 3

Weet jy waar jy vandaan kom? Jy kom uit ʼn verhouding van liefde. Jy is gemaak vir ʼn verhouding.

Dieselfde stof wat jy op die aarde sal vind, is die stof waarmee jy aanmekaar gesit is, en nie net die stof op aarde nie — die stof wat ons in sterre vind. Ons is koolstof gebaseerd soos die sterre. Ons is waterstof, helium, ons is selle, atome en molekules wat verbind het. Hierdie verbindings en hierdie samewerking van al hierdie stowwe is ʼn tydelike reëling. Dit gaan tot ʼn einde kom en dan word stof weer stof.

Toe blaas God lewensasem in die mens. Die Hebreeuse woord vir asem is "ruach". Dis dieselfde woord wat gebruik word vir "wind". Dis dieselfde woord wat in vers 2 gebruik word vir die Gees wat oor die aarde gesweef het. God is Gees. Hy het ons 'n gees gegee. Ons is na sy beeld en gelykenis gemaak. Ons het die vermoë om ʼn verhouding met Hom te hê.

Ons het ook ʼn siel, denke, emosies, verlangens en verbeelding en dit stel ons in staat om anders as die res van die skepping met mekaar te kan praat, ʼn taal te kan hê, te kan kommunikeer. Om ʼn heel ander soort verhouding, die ek-jy verhouding, te kan hê. Dis hoe God ons gemaak het.

Ons moet dit besef, ons moet dit aanvaar. En die belangrikste van hierdie verhoudinge is ons verhouding met God.

Kyk wat gebeur met die mens toe daardie verhouding versteur word, gebreek word. Dit was ʼn verhouding van vertroue. God het gesê: “Moenie van die boom eet nie, want ek het jou soos Myself gemaak en jy het ʼn vermoë om te kan kies, anders as die diere wat instinktief leef. Jy kan dit beoefen deur te kies om nie van hierdie boom te eet nie.”

Die mens het egter begin wonder. Daar ontstaan ʼn suspisie by hom — hoekom sê God dit? Weerhou Hy iets van my? Daar is meer as dit. Kies jou eie pad. En toe word daardie verhouding verbreek. Die oomblik toe die mens se verhouding met God skeefloop, toe loop sy verhouding met sy medemens skeef. Vir die eerste keer is daar nuwe emosies — verwyt wat na vore kom. Daar is vrees, goed wat nooit daar was nie. Skielik is daar onmin tussen Adam en Eva, en dis nie al nie. Dit versteur die verhouding met die aarde. Skielik is daar dorings en dissels wat voortspruit en goed wat nooit daar was nie.

Dit lyk asof die kern van ons lewe uitmekaar val en ons probleme met mekaar kry as ons probleme met God het. Ons het probleme met die wêreld en met onsself en almal as dinge skeefloop. Ons kan net geluk in Hom vind. Daarom sê Augustinus: “You’ve made this for yourself, oh Lord. And our hearts are restless in us until it rests in You.”

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Gemaak Vir …

Die lewe gaan om verhoudinge. Ons is geskape om in verhouding met God, ander en die wêreld om ons te leef. Ons wil daarom nader aan God beweeg en hegter verhoudinge bou.

More

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/