Woorde Vir 'n Manier Van LeweVoorbeeld
Ek weet nie of jy al ooit die storie gehoor het van die klein dorpie wat reg langs ʼn rivier geleë was nie. Dit was ʼn vredeliewende gemeenskap. Die inwoners was gelukkig. Daar was ʼn paar ryk mense maar niemand het tekort geskiet aan die basiese behoeftes nie en hulle het omgesien na mekaar. Op ʼn dag kom daar ʼn lyk in die rivier af gevloei. Hulle het die lyk uit die water gehaal, hom begrawe en gevoel dat hulle ten minste eer en respek kan toon vir lewe. Dit was nie lank nie, of nog ʼn lyk het in die rivier afgekom. Hulle het dieselfde gedoen. Dit het later ʼn tendens geraak dat die lyke so afkom en dat hulle begrafnisse hou tot iemand eendag gesê het: “Ek wonder waar kom dit vandaan? Hoekom gebeur dit? IS dit al wat ons kan doen?”
Hierdie verhaaltjie wys vir ons die verskil tussen geregtigheid en liefdadigheid. Geregtigheid het te doen met oorsake en stelsels wat mense laat ly en in die rivier laat beland. Liefdadigheid het te doen met dit wat jy gee, jou tyd, jou energie, jou geld, om ʼn sekere behoefte by iemand te kan bevredig. Die doel van hierdie storie is nie om te sê dat geregtigheid belangrik is en liefdadigheid nie of om hulle teenoor mekaar te stel nie, maar dis eintlik meer om aan te toon dat altwee baie belangrik is.
In die tyd waarin ons lewe lyk dit dikwels asof ons geregtigheid en liefdadigheid van mekaar skei. Godsdienstige organisasies, nie-winsgewende, humanitêre organisasies is dikwels op liefdadigheid gerig, om mense se behoeftes aan te spreek.
Dan is daar dié wat meer op geregtigheid ingestel is. Dit het meer met geregsdienaars en die politiek te doen, waar daar probeer word om omstandighede en stelsels te verander sodat mense nie in die rivier val nie. Maar as dit geskei word van persoonlike liefdadigheid en daar nie regtig omgegee word oor die mense wat in die rivier val nie, beteken dit dat ek net die stelsel verander en ander mense val nou weer in die rivier. Of ek verander net die stelsel en die omstandighede sodat ek daaruit voordeel kan trek.
Die gevare is om dit van mekaar te skei. Net so kan die persone wat ernstig is oor liefdadigheid sê hulle verstaan nie wat daar bo in die rivier gebeur nie. Ons bid maar net daaroor. Of ons hoop vir die beste. Ons doen die regte en die goeie ding.
Albei moet gedoen word, maar hier is ʼn groot ding wat Paulus ons mee konfronteer. Hy sê liefdadigheid kom eerste.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir die lewe. Spr. 26:24 DB. Die kwaliteit van ons lewe is afhankllik van die woorde wat ons spreek. Wanneer ons die krag van woorde verstaan, en besef dat ons kan kies wat ons dink en praat, kan ons lewens getransformeer word. God gebruik die woorde wat ons spreek om ons te vorm en lewe te bring.
More
Ons wil graag vir Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/