Die Gewoonte van DankbaarheidVoorbeeld

The Habit of Gratitude

DAG 2 VAN 7

Ek het 'n wonderlike driejarige dogtertjie. Sy sê snaakse en oulike goed en soms ook stoute goed. Dit voel asof sy elke week nuwe vaardighede, sinne en gedrag aanleer. Sommige woorde het vanself gekom: myne, nou en ek wil. Ander het meer werk geverg. Woorde soos asseblief en dankie moet aangemoedig en versterk word.

Dit is ons (sondige) menslike natuur. Volwassenes val net soos kinders in hierdie slaggat. Ons voel geregtig en deel bevele uit. Niemand hoef ons te leer mompel of kritiseer nie; dit kom vanself. Ons mae grom as ons honger is en ons harte brom as ons teleurgesteld is. Om dankbaarheid te vestig, vereis werk. My dogtertjie moet daaraan herinner word om "dankie" te sê — en ek ook. Ons moet die selfsugtige begeertes binne-in ons beveg en ook die maniere waarop dit deur ons woorde en gedrag na vore kom.

Psalm 33 moedig jou aan om aan danksegging uitdrukking te gee. Die psalmis sê vir ons dat lof en danksegging vir die volk van God gepas is. Om die Here te dank is paslik as gevolg van wie Hy is en wat Hy gedoen het.

Dit is sinvol om God te loof omdat Hy getrou, reg, regverdig en liefdevol is (33:4-5). Psalm 33 voorsien die rede vir danksegging deur ons na 'n ander prentjie van God se geskiedenis te lei — wat met die skepping begin (33:4-9) en na God se voorsiening oorgaan namate koninkryke opstaan of val (33:10-19).

Die Psalm gee uitdrukking aan die heerlikheid van God as 'n oproep om Hom te loof en te dank. Dit is 'n oproep om tot aanbidding beweeg te word deur wat ons oor God glo. As jy glo dat God Skepper en Koning oor alle dinge is en as jy glo dat Hy jou hulp en skild is, behoort hierdie gewigtige waarhede tot danksegging en vertroue te lei.

Danksegging begin dalk as 'n persoonlike saak wanneer jy dankbaar is, maar dit moet van binne na buite beweeg terwyl jy dankie sê. Hoe meer ons God sien en raaksien hoe Hy aan die werk is, hoe meer redes het ons om dankie te sê. Elke dag is daar genade en seëninge wat 'n "nuwe lied" van danksegging aanvuur.

Om God te sien behoort ons te lei om Hom in danksegging te aanbid. Daar is baie maniere waarop ons dit kan doen: sang, gebed, getuienis, vertellings, gesprekke en om dit neer te skryf, om 'n paar maniere te noem.

Hierdie verskillende maniere om dank uit te druk, bring nie net dankbaarheid na vore nie, maar dit help ook om dit te kweek waar dit ontbreek. Soos my dogter die waarde van danksegging aanleer en in dankbaarheid groei deur haar "dankie" te verwoord, oefen ons beide ons monde en ons harte om danksegging na te streef deur dit te sê. Woorde formuleer nie net wat ons voel nie, maar soms deur dit neer te skryf of hardop te sê, "groei die gevoel." Die keuse om dankie te sê laat ons dink waarvoor ons dankbaar is, wat weer ons dankbaarheid verhoog.

Begin vandag. Vind maniere om vir God dankie te sê. Vertel dan vir ander waarvoor jy dankbaar is. Moenie tevrede wees met 'n vae gevoel van dankbaarheid nie. Voed dit deur te fokus op spesifieke redes waarom jy dankbaar is en om God te dank.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

The Habit of Gratitude

Hierdie 7-dag leesplan skets eenvoudige gewoontes wat jou tot 'n lewe van dankbaarheid kan lei. Of dit nou is om ons tonge te oefen om dankie te sê, of om daaglikse gewoontes van groter dankbaarheid aan te leer — hierdie leesplan sal jou bewustheid van die welwillendheid om jou 'n hupstoot gee en jou help om 'n lewe van dankbaarheid te lei.

More

Ons wil graag Moody Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.moodypublishers.com/the-grumblers-guide-to-giving-thanks/